GROOT BRAKRIVIER NUUS - Op Saterdag, 7 September is geskiedenis op Groot-Brakrivier gemaak toe 'n nuwe voetbrug amptelik geopen is om weer eens die dorp met die munisipale kantore te verbind.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, wat die amptelike opening waargeneem het, het verwys na die skade wat in 2010, na 'n groot storm daartoe gelei het dat die bruggie destyds weggespoel het.
"Daarna het die munisipaliteit etlike versoeke vanuit die gemeenskap ontvang vir die vervanging van die voetbrug.
Weens geotegniese redes kon die bruggie nie weer op presies dieselfde plek opgerig word nie.
"Die wykskomitees van Wyke 14, 5 en 4, in konsultasie met die gemeenskap, het die vervanging van die bruggie op die geïntegreerde ontwikkelingsplan gelys.
"Daar is kundigheid van professionele persone ingewin en die raad bedank die span ingenieurs, asook mnre Pieter Myburgh, Altus Eitner en Ralph Dickson en hul span," het raadsheer Levendal gesê.
Die brug na die munisipale kompleks was vir baie jare vir mense met gestremdhede asook vir bejaardes 'n kort en maklike pad om by die kantore uit te kom. Op Sondae is dit as piekniekplek benuet waar gesinne Sondae kon ontspan.
"Net soos die ou brug, hoop ek dat hierdie brug gebruik sal word om gemeenskappe byeen te bring. Ek hoop dat huwelikspaartjies wat hul troufoto's hier kom neem, daardeur met die ideale herinneringe die toekoms sal binnegaan.
"Vir ons entrepreneurs tydens die maandelikse Groot-Brakriviermark, wens ek toe dat daar 'n toeloop van meer voete na hul stalletjies sal wees."
Ten slotte het die burgemeester die munisipale tegniese span bedank vir die harde werk en beplanning wat ingesit is vir die ontwerp en bou van hierdie brug.
"Ek is oortuig dat hierdie brug ook as toerisme-aantreklikheid aangewend sal kan word tot groot voordeel van die groter Groot-Brakrivier-gemeenskap."
Die nuwe voetbrug. Foto's: Tersia Marais
'n Besoeker by die opening van die voetbrug, raadslid Anton Dellemijn, uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, raadsheer Cliffie Bayman en raadslid Annatjie Janse van Rensburg. Voor is George Nezar.
Die lint word geknip waarmee die voetbrug amptelik oop verklaar is.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'