MOSSELBAAI NUUS - Die Nissan 370Z wat inwoners tydens 'n gelukstrekking wat deur die Mossel Bay Covid-19-fonds aangebied word kan wen, staan steeds by die stigter van die fonds, Shaun Mouton se woning.
Mouton ontken steeds beskuldigings teen hom dat dié fonds 'n klug is.
Dit volg op talle gerugte deur inwoners wat glo kaartjies in 'n gelukstrekking wat deur die fonds aangebied word, gekoop het.
In die trekking word inwoners aangemoedig om R250 per kaartjie te betaal en waarna hulle dan tydens 'n gelukstrekking 'n Nissan 370Z kan wen. Daar is glo slegs 2 500 kaartjies beskikbaar. Inwoners beweer egter op sosiale media dat Mouton die skenkings wat aan die fonds gemaak word, in sy sak steek. Daar word gereeld ook navrae gerig oor wanneer die gelukstrekking dan sal plaasvind.
Mouton sê hy het twee nie-winsgewende organisasies gestig met die doel om besighede te ondersteun tydens die uitdagende Covid-19-pandemie en om kos aan noodhebbendes te verskaf. Mouton is die direkteur van die fonds en het beheer oor die rekening. Hy sê die Mossel Bay Covid-19-fonds is geregistreer onder die nommer: 2020/183237/08.
Mosselbaaiers het begin kriewelrig raak toe daar teen November 2020 steeds geen wenner vir die beloofde voertuig aangekondig is nie, hoewel Mouton in November 2020 gesê het die verwagte wenner van die voertuig sal teen die einde van die vakansie aangekondig word.
"Of vroeër as die kompetisiekoste gedek is," het Mouton in November 2020 aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Mouton sê nou dat alle fondse reeds in die gemeenskap ingesaai en "amper geen kompetisiekostes is gedek nie".
Hy beweer die Nissan 370Z is nog beskikbaar om gewen te word, maar sê hulle moet fondse inkry. "Al die skenkers het ons kontakbesonderhede en ons kommunikeer met hulle. Ons kort nog net so 875 kaartjies om te gaan. Dan kan ons die trekking doen."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'