MOSSELBAAI NUUS - Dit was 'n baie leersame middag vir Voëlvlei VLV se vroue toe Vlam van Deventer hulle toegespreek het en wenke gegee het oor tuinmaak hierdie tyd van die jaar.
Tuine behoort nie onbepland vol geplant te word nie, aldus Vlam. Sy raad is: "Don't find a space for the plant, find a plant for the space."
Hy het gewys op die belangrikheid van kontraste in die tuin waar loof 'n groot rol speel. In tye wanneer blomme skaars is, kan loof op sy eie gebruik word om 'n vertrek op te kikker.
Hierdie tyd van die jaar is 'n goeie tyd om die drie P's te plant, naamlik pansies, poppies en primulas.
Die vroue van Voëlvlei het uitstekend gevaar tydens die pas afgelope VLV SWD-konferensie wat in Reebok gehou is. Elmarie Engelbrecht se borduurwerk, hekelwerk asook gebreide kralehandsakkie het eerste plekke behaal. Elize Pienaar, Ada Gericke en Annamarie van der Merwe het ook eerste plekke in verskillende afdelings behaal.
Die maandelikse kompetisies het weer gesorg vir baie goeie inskrywings.
Die beste suurlemoenbroodjie is deur Yvonne Meyer gebak en Tersia Prinsloo het die prys gewen vir die beste voëltjievoerder.
Markdag is baie goed ondersteun en die opbrengs daarvan gaan na die Burre Burger-fonds vir droogtehulp.
Rika de Villiers het twee uitstekende soorte gom bekendgestel en Linzetta Smit het Marie Kondo se metode van organiseer aan almal voorgehou.
Die vergadering is afgesluit met die voorlesing van Ada Gericke se vermaaklike verhaal, Niemand het dit verwag nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'