Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die graad 7-leerders van Laerskool Vorentoe het vroeër vanjaar 'n breiprojek aangepak.
En wanneer hierdie leerders ter sprake kom, is dit seuns en meisies wat met dieselfde entoesiasme deelneem.
Volgens hulle opvoeder, Wardiaan Hattingh het die breiery in die geografieklas begin.
"Ons het met wol en tou gewerk en toe het een van die meisies, Rayne Ollier begin vingertjie brei. Daar ontstaan die idee toe dat ons iets hiermee kan doen. Die ander leerders het toe by die breiery begin inval."
'n Opvoeder by die skool, Zoë Schoeman het die leerders bietjie touwys gemaak om te kan brei en ook 'n paar hekelvaardighede geleer.
Hiermee, berig Hattingh, sukkel die jonges egter nog.
VIDEO - Vlytige vingers by Laerskool Vorentoe (Video: Cornelle Carstens)
Die ACVV Kenani het van die leerders se breiprojek verneem en toe sakke wol geskenk.
Die leerders self het rondgevra tuis en in hulle families en kort voor lank was daar ook geen tekort aan breipenne nie.
"Wanneer hulle ookal 'n vrye tydjie kry, dan brei hulle. Ons is nou besig om komberse te maak en wil dit graag vir die winter gaan uitdeel waar dit nodig is," verduidelik Hattingh.
Die kinders brei die blokke en hulle oumas help glo met die hekelwerk om die blokke in komberse te omskep.
Sowat 20 leerders is by die projek betrokke en daar is 160 blokke wat tans nog in komberse verwerk moet word.
Hoewel dit volgens hom nie baie komberse sal wees nie, mik hulle daarvoor om ten minste 10 te voltooi.
"Dit gaan 'n verskil maak in 10 mense se lewens. Dit leer my klas die waarde van gee en om iets goeds vir ander te doen."
Die jonges beplan om teen 21 Junie die voltooide komberse weg te bring.
Volgens Hattingh, is die jongspan op soek na nog plekke waar hulle kan komberse skenk.
Enige persoon wat met hulle wil kontak maak, kan Wardiaan Hattingh skakel (079 762 2110).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'