MOSSELBAAI NUUS - Die lede van VLV Voëlvlei was bevoorreg om Annemarie Stander, binnenshuise versierder, as gasspreker te hê by hul Mei-vergadering.
Annemarie meen dat elke mens so uniek is dat die beste versiering in die huis die vrou van die huis self is.
Dit wat sy ís en waarvan sy hou, bepaal die voorkoms en atmosfeer van haar huis.
Met die mooiste materiale, kussings en idees is die vroue ingelig oor die nuwe tendense in binnenshuise versiering.
Neutrale kleure is die begin van alles en dan volg materiale met verskillende teksture, kleurskemas en kontraste.
Dit is veral belangrik dat ekstra dinge uit onder andere die natuur, bygevoeg word. Die aanwending van veral blomme en plante as versiering in die huis, behoort seisoensgebonde te wees.
Praktiese wenke wat sy gegee het, sluit onder andere in dat 'n klein verandering 'n groot verskil kan maak en dit nie baie hoef te kos nie.
Deur byvoorbeeld slegs die slope van kussings te verander, maak dit onnodig om baie kussings te koop.
Dit is egter belangrik om op sitplekke strooikussings van vere te hê omdat dit die liggaam se vorm aanneem en gemakliker sitposisies verseker.
Dit bly egter belangrik dat ‘n huis se versiering die vrou van die huis gelukkig moet maak en dat almal nie noodwendig van dieselfde dinge hou nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'