MOSSELBAAI NUUS - Wanneer die lede van Voëlvlei se VLV-tak in die toekoms vrugte gaan koop, sal hulle met ander oë na die eksotiese kiwivrug kyk.
Ettiene Terblanche, ‘n boer van Waboomskraal, het soveel interessante inligting oor díé klein vruggie met hulle gedeel dat dit moeilik sal wees om daarby verby te stap.
Danksy ‘n onderwyseres van Nieu-Seeland, Mary Isabel Fraser, is die vrug in "Kiwiland" gevestig.
Sy het, ná ‘n vakansie in China, saadjies van die Chinese gooseberry, soos dit genoem is, saamgeneem huis toe, en dit was die geboorte van die kiwivrug in haar land.
Vandaar het die verbouiing daarvan oor die wêreld versprei totdat dit in die 1980’s ook die pad na Suid-Afrika gevind het.
Tans is Italië die grootste verbouer met Nieu-Seeland in die tweede plek.
Kiwivrugte het baie gesondheidswaarde.
Dit bevat dubbel soveel vitamine C as sitrusvrugte, en is ryk aan vesel, serotonien, antioksidante en minerale.
Dis interessant dat daar drie verskillende kleure (variteite) kiwivrugte is, naamlik groen, geel en rooi. Die klein kiwibessie is ‘n nuutjie met ‘n gladde skil en word soos druiwe met skil en al geëet.
Danksy die kiwiboere word die byeboerdery ook versterk. Met ongeveer 1 000 saadjies per vrug, is 10 korwe per hektaar nodig vir bestuiwing.
Om kiwivrugte te vestig, is baie duur. Boere moet die risiko’s van siektes, smaak- en kwaliteitvariasies, oorbemarking, prysvermindering, stoorkapasiteit en markbekendstelling die hoof bied. In ideale omstandighede sal ‘n boer na vyf jaar finansieel gelyk breek.
Na die praatjie, het die vroue as deel van die tema, Bewaar ons erfenis, ‘n paar vrolike volksliedjies gesing.
Hulle is aangemoedig om hierdie erfenis aan hulle kinders en kleinkinders oor te dra.
Nuutskeppings in die Afrikaanse taal het die vroue meesal uitgeboul en heerlik laat lag.
‘n Vrolike voorlesing het die byeenkoms verder kleur gegee en die middag is afgesluit met eksotiese vrugteslaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'