MOSSELBAAI NUUS - Met ‘n tema soos, So maak mens, het die vroue van VLV Voëlvlei hul eerste vergadering gebruik om by bestuurslede sekere "resepte en wenke" aangaande die verskillende portefeuljes te leer.
Johlene Muller het gedemonstreer hoe om ‘n vertikale tuin uit plastiekpyp te maak. Dit was ‘n inspirasie vir almal om hul huise en tuine daarmee te versier.
Tolletjiebrei is ‘n vaardigheid wat almal as kinders aangeleer en toegepas het. Cathy Claassen het die lede opnuut geïnspireer om krale te gebruik en met ‘n tolletjie te brei. Die vroue is nou almal vuur en vlam om ‘n pragtige artikel te maak vir ‘n volgende takkompetisie.
Rika de Villiers het in detail verduidelik watter materiale geskik is vir herwinning en watter nie. Die ongeskikte materiale soos byvoorbeeld winkelstrokies en foelie kan in tweeliter koeldrankbottels geprop en styf gedruk word om boustene of sogenaamde eco bricks mee te maak.
Ada Gericke het as bestuurslid vir gesondheid wenke deurgegee wat dokters aan hul persoonlike vriende gee om stres te verminder. Dit sluit nie medikasie in nie, maar wel natuurlike dinge soos onder andere asemhaling, gesonde kos, slaap, reggae-musiek of luiwees.
Lizetta Smit het die jongste neigings vir 2020 met goeie foto’s gedemonstreer. ‘n Paar interessante nuwe kosdinge vir vanjaar is onder andere die volgende: oordadige en mooi partytjiekos, gesonder kos vir kinderpartytjies, nie-alkoholiese drankies, eetbare blomme en plante, meel van pampoen en piesangs, vrank smake soos asyn en tamaryn, eetbare verpakkings en eetgerei, Oosterse kos en ‘n tuisgemaakte, handgeskrewe resepteboek.
Op die modefront is kolle, groot valle, treffende moue, die sestigermode, onderbaadjies, sakkerige langbroeke, oorgroot handsakke, groot juweliersware en insteekskoene die inding vir 2020.
Dit was voorwaar ‘n leersame vergadering en die vroue is behoorlik opgewonde oor die VLV-jaar wat voorlê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'