MOSSELBAAI NUUS - Tydens hulle vergadering vandeesweek op 24 Februarie, het lede van die Hartenbos VLV gehoor dat dit nog lank nie die laaste sien van die gedrukte media is nie, veral nie gemeenskapskoerante nie.
Inteendeel, doemprofete ten spyt, het die wêreldsakeleier, Warren Buffet met die aankoop van 28 gemeenskapskoerante in 2012 vir die bedrag van 344 miljoen dollar, almal goed laat verstaan dat dít is waar die toekoms van koerante lê.
Nuusredakteur van die Mossel Bay Advertiser, Cornelle Carstens, het die lede toegespreek.
Sy het na die Advertiser as "Mosselbaai se New York Times" verwys, nadat 'n plaaslike sakeman en kennis van haar die koerant so vernoem het.
Sy het verduidelik dat die Group Editors, uitgewers van die Mossel Bay Advertiser, asook vyf ander koerante, permanente werk bied aan 125 werknemers in ses dorpe.
Hierdie publikasies sluit in Oudtshoorn Courant, Knysna Plett Herald, Suid-Kaap Forum, George Herald en die buiteperd, die Graaff Reinet Advertiser. Die groep verkoop 40 2000 koerante in die streek teenoor van die dagblaaie wat minder as 6 000 verkoop.
Navorsing het getoon dat veral die dagblaaie se verkope hard getref is deur nuusverspreiding aanlyn.
Carstens het voorts vertel dat Group Editors nie terugstaan vir enigiemand wat hulle stempel op die wêreld van digitale nuus betref nie.
Group Editors het hulle koerante se eerste webtuistes in 2010 bekendgestel. Elke koerant in die groep het hulle eie Facebook-, Instagram-, asook Twitter-rekening.
Gedurende die afgelope jaar, het die webtuiste 5 miljoen bladbesoeke gehad, met ongeveer 1 miljoen besoekers aanlyn. Lesers van regoor die wêreld besoek die webtuiste op 'n gereelde basis.
" 'n Baie insiggewende praatjie. Dit is altyd lekker om na 'n geesdriftige en vlot spreker te luister," het Martie Visagie, sameroeper van hierdie week se vergadering gesê.
Cornelle Carstens (tweede van links), nuusredakteur van die Mossel Bay Advertiser saam met lede van die Hartenbos VLV Martie Visagie, Rita Botes, Karen Kruger en Tersia de Bruyn-Smith.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'