Video
MOSSELBAAI NUUS - Die groter Mosselbaai het hierdie winter telkens onder stormweer deurgeloop wat groot skade aan eiendom aangerig het.
Helaas, was nie al die slagoffers in die begunstigde posisie om die skade aangerig deur middel van versekering of ander fondse te herstel nie.
Na die erge stormwind in Junie, wat op Mosselbaai tot bykans 110km/h gemeet het, het vier wonings op plase in die Vleesbaai-omgewing, groot verlies gely toe buitetoilette deur die wind vernietig is.
Die herstelkoste hiervan beloop ongeveer R8 000.
Tot niet
Ongeveer 12 jaar gelede, het die Eden-distriksmunisipaliteit, tans Tuinroete-distriksmunisipaliteit gratis toilette aan plaasgemeenskappe, in onder andere die Vleesbaai-omgewing, voorsien.
Sarah Plaatjies, 'n bejaarde weduwee woon stoksielalleen en vertel van die nag in Junie toe die stormwind so gewaai het. Die volgende oggend, was alles op haar werf darem nog staande, behalwe die buitetoilet.
"Dit was heeltemal tot niet gewaai. Die kleiner stukke het ons weggegooi," verduidelik sy en beduie na 'n paar panele en 'n verweerde toilesitplek wat teen die werfheining staan.
"Ons gebruik nou maar weer emmers," sê sy gelate.
Kyk 'n video hieronder:
Dilemma
Die Mosselbaai-munisipaliteit het by navraag gesê dat hulle terdeë bewus is van dié dilemma. Aangesien die wonings egter op privaateiendom is, kan die munispaliteit nie die inwoners help met herstelwerk nie.
Die munisipaliteit het egter 'n bemiddelingsrol gespeel en by onder meer by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit om hulp gaan aanklop. Aangesien hulle projek afgehandel is en met die aanpassing van begrotings wat deur die Covid-19-pandemie genoop is, is geen addisionele befondsing vir hulp beskikbaar nie. Die munisipaliteit het ook by ander staatsdepartemente asook om privaat hulp aangeklop, sonder sukses.
Intussen moet die plaasmense maar in wind en weer, droog en nat, hitte en koue geholpe raak. "Daar is 'n gestremde vroutjie wat saam met ons sukkel, maar wat kan ons doen?" het Sarah tydens 'n terreinbesoek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Sou enigiemand uit die privaatsektor wou bydra tot hierdie noodsaaklike herstelwerk, skakel die Mosselbaai-munisipaliteit se direktoraat gemeenskapsdienste (044 606 5000).
Sarah Plaatjies by die struktuur se oorblyfsels.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'