MOSSELBAAI NUUS - Twee persone het 'n beloning van altesaam R20 000 aangebied vir inligting wat sal lei tot die in hegtenisneming van verdagtes verantwoordelik vir 'n vlaag van inbrake in die Vleesbaai-area die afgelope week.
Goedere, hoofsaaklik selfone en rekenaars ter waarde van sowat R60 000, is gedurende ses voorvalle by huise in die area gesteel.
"Dit is veral kommerwekkend dat inwoners steeds in sommige gevalle met oop vensters sonder behoorlike diefwering slaap. In van die sake is goedere gebuit deur oop vensters, terwyl deure in ander gevalle oopgeforseer is.
"Die KwaNonqaba-polisie doen weer eens 'n beroep op inwoners om groter verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid en die bekamping van misdaad te neem.
"Misdaadbekamping is almal se verantwoordelikheid, ook in vakansietye. Misdadigers neem nie vakansie nie en teiken juis diegene wat nie ag slaan op hul eie beveiliging nie," maan die kommunikasiebeampte van die KwaNonqaba-polisie, sers Kapp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'