MOSSELBAAI NUUS - Reg op Mosselbaai se voorstoep swoeg landbouers met een van die verswelgendste droogtes in menseheugenis. Trouens, van die ouer garde, mense in hul tagtigerjare, sê hulle het nog nie 'n droogte op hul plase soos hierdie beleef nie.
Dié realiteit is vandeesweek weer kras tuisgebring toe talle dooie visse op die plaas Bergsig van Kobus Crous, bekende helikoptervlieënier opgemerk is.
"Die visvrektes kom onder verskeie spesies voor, onder meer rivierharders, karp en graskarp, kurpers en barbers. Daar mag meer vrektes wees, maar die dooie vis op die foto's is in net een poel opgespoor," berig Crous.
Sy buurman, Kobus van Zyl, sê volgens sy tagtigjarige pa het hy nog nooit die rivier so droog beleef nie.
"Die Hartebeestkuildam is maar sowat 5% vol, ek moet voer en water vir my beeste inry. Die beskikbare water het 'n brak reuk, 'n mens kan dit nie gebruik nie. Op meeste van die plase kan die beeste nie eens meer die beskikbare water in die rivier drink nie. Die watervlak is enorm laag, maar ons glo dit gaan weer kom reën," sê Van Zyl. Hy sê boonop trek die bome en riete baie van die beskikbare water op, wat minder grondwater vir die landbouers oorlaat.
"Die visvrektes is waarskynlik toe te skryf aan die onnatuurlike hoë temperature wat nou midwinter in die omgewing ervaar word, wat meebring dat die suurstofvlakke in die rivier se water daal, veral weens die besondere lae watervlakke. Die dooie vis is almal varswaterspesies en dit is onwaarskynlik dat die sout seewater na die opening van die rivier só hoog op in die rivier 'n invloed kan hê," berig die voorsitter van die Hartenbosrivierforum, Phillip Vermaak.
Crous sê hy het Saterdag bo-oor die Hartebeestkuildam gevlieg en het gesien hoe water uit die dam vrygelaat word. "Die water het selfs oor die paaie gestoot," sê hy.
Die probleem blyk te wees dat die uiterste lae watervlakke vislewe in die rivier tot die kuile en poele beperk, namate die water vir landboudoeleindes uit die rivier onttrek word, word die water - en gevolglik die suurstof vir die visse - minder.
Enkele voorbeelde van die dooie vis wat uit een poeletjie op die plaas Bergsig gehaal is.
Die realiteit is dat Mosselbaaiers waarskynlik weinig begrip het vir die waterskaarste wat landbouers in die omgewing beleef nie. Van Zyl sê die situasie in die Herbertsdale- en Riversdal-omgewing is ewe benard. Landbouers kan ook nie van hul diere uitdun nie, omdat sekere siektes hier voorkom en jong diere 'n té groot risiko inhou om weer hier te hervestig.
"Ons voer maar, maar 'n bees drink sowat 80 liter water per dag. Ons kan nie kanse vat nie, ons lewer melk aan Nestlé, hulle toets die melk en handhaaf baie hoë standaarde. Ons moet maar net aanhou glo."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'