MOSSELBAAI NUUS - Vissermanne het Saterdag, 27 Januarie, saamgespan om twee kinders te help wat byna verdrink het naby De Vette Mossel.
Terwyl die mans besig was om vis te vang, het iemand om hulp geroep omdat twee kinders in die moeilikheid was.
Een van die kinders, 'n seun, was die naaste aan die kus en kon eerste gehelp word, maar 'n meisie wat ook in die moeilikheid was, was dieper.
Een visserman, Ruan Dickenson het in die see ingegaan, maar strome het verhoed dat hy dadelik nader aan haar kon beweeg.
'n Tweede visserman, Jacqu Gerber, kon toe uiteindelik by haar uitkom en het haar uit die water gedra.
'n Derde, Eben Botha, was ook op die strand waar hulle onmiddellik begin het met KPR (kardiopulmonale resussitasie) en mond-tot-mond asemhaling, maar het in daardie stadium het hulle geen pols by haar gevoel nie.
Hulle het haar opgetel en 'n ent hoër op die strand neergesit. Hier het hulle nog 'n keer probeer waarna daar uiteindelik 'n pols was.
Nooddienste is intussen ontbied waarna die meisie hospitaal toe geneem is. Haar familie kon nog nie bereik word nie.
Lees meer in hierdie week se Mossel Bay Advertiser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’