MOSSELBAAI NUUS - Die strandgebied by Diasstrand in die berugte Blue Waters-omgewing, was gedurende die naweek wéér 'n misdaadtoneel vir 'n rooftog. Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie, het twee vakansiegangers wat vlieghengel beoefen op Sondag, 23 Junie op die rotsagtige gedeelte van Diasstrand gaan visvang toe 'n onbekende man hulle nader.
Die man het hulle glo aanbeveel om elders vis te vang aangesien die seetoestande volgens hom nie gunstig was nie. Die vissermanne het opgepak en is deur die onbekende man vergesel toe hulle wegstap.
Op pad na 'n ander visvangplek, het nog 'n man hulle genader. Dié man het 'n mes te voorskyn gebring en die vissermanne daarmee gedreig terwyl die ander man steeds by hulle was. 'n Struweling het ontstaan, waartydens die sak waarin visgerei was, geskeur het. Hierna het die vissermanne op die vlug geslaan en die verdagtes met die sak, visstokke, asook eletroniese toerusting gevlug.
Die waarde van die goedere wat as gesteel aangemeld is, is R44 000. 'n Saak van roof met 'n wapen anders as 'n vuurwapen word ondersoek.
Die ondersoekbeampte is kst Ayabonga Lolo. Enige persoon met inligting kan hom kontak (044 606 2221).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'