MOSSELBAAI NUUS - Sy eerste instink was om terug te baklei, sê Derick van der Merwe (66) wat, sommer vroeg in die Nuwejaar, die jongste slagoffer van geweldmisdaad in die nou reeds berugte De Bakke/ Diastrandgebied was.
Tydens 'n visvanguitstappie op Sondag, 7 Januarie om 11:00 is Van der Merwe deur twee onbekende mans aangeval en het hy met etlike steekwonde, maar genadiglik met sy lewe van die petalje afgekom.
Van der Merwe het van De Bakke-strand, knap duskant die chalets in die rigting van Diasstrand gestap toe die voorval plaasvind. Hy sou, volgens beplanning, spesifieke plekke besoek waar hy sy lyn sou ingooi.
"Ek is altyd bedag en staan gewoonlik met my oog op die strandgebied. Ek loop ook as 'n reël met die rotse langs - dis moeiliker bereikbaar. Maar hierdie een keer het ek met die paadjie langs geloop, want ek was haastig."
Met sy drasak op die rug en visstok in die hand het die mans hom van agter oorval. "Ek vermoed hulle moes my oor die kop geslaan het. Binne oomblikke was my bril ook vol bloed en kon ek nie my aanvallers sien nie. Ek sien in elk geval baie sleg sonder my bril."
Van der Merwe het een van die mans herhaaldelik hoor skree: "Steek hom, steek hom." En dit het presies so gebeur.
"Ek kan jou sê die houe het op my neergereën. Aanhoudend. Ek het besef ek moet blok vir my gesig en, soos ek op my rug lê, het ek my knieë opgetrek om my organe te beskerm."
Toe die mans sy selfoon en toebehore in die hande kry in sy broeksak, het hulle laat spaander. Van der Merwe het op sy voete gekom en om hulp geroep. "Toe ek op die strand aangekom het, was daar heelwat mense en toe ek om hulp roep, was daar niemand nie. Hy het deur die bosse gestrompel na Louis Fourieweg om hulp te soek.
Bebloed langs die pad
"Ek was flenters gesteek en die bloed het my afgestroom. Ek het maar net gehoop iemand stop by my sodat ons die ambulans kon bel."
Die Janse van Rensburgs van Hartenbos het hulle oor Van der Merwe ontferm. "Ons was op pad Santosstrand toe, toe ons die bebloede oom langs die pad sien staan en waai. Ons het gestop, teruggestoot tot by hom waarna hy vertel het hy is beroof," vertel Ruvahn Janse van Rensburg.
"Ek het gesê hulle moet net die ambulans bel, maar hulle het aangedring om my op te laai en hospitaal toe te neem," sê Van der Merwe.
"Die bloed het die hele bakkie agterop volgeloop. Ons het die oom so jammer gekry." sê Janse van Rensburg.
Van der Merwe is in die Life Bay View-hospitaal behandel en is op Dinsdag, 9 Januarie ontslaan.
Hy meen die les geleer is - vang vis in 'n groep. "Twee is nie 'n groep nie en ek moes soos ek altyd doen, op die rotse gehou het."
Ontbossing
Hy meen dat, ter voorkoming van misdaad in dié gewraakte gebied, ontbossing beslis 'n opsie is. Van waar hy en sy vrou in The Lofts, Boland Park bly, sê hy hulle sien hoe leeglêers in en uit die bosse langs Louis Fourie beweeg.
Die Da Gamaskop-polisie ondersoek 'n saak van roof na aanleiding van die voorval. Die waarde van die gesteelde goedere is ongeveer R2 300.
ARTIKEL & FOTO: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'