MOSSELBAAI NUUS - Werskaflegging kan voel soos 'n doodloopstraat waaruit jy moeilike 'n U-draai gaan kan maak. Of jy kan ontdek "dat daar vuur in jou are is".
Soos Tenille Swanepoel, die meesterbrein agter 'n nuwe unieke handelsmerk vir vroue wat lief is om te braai.
Boonop, soos dit dikwels met geluk by die ongeluk werk, het die dobbelsteentjies hierdie keer in haar guns geval.
Terwyl haar handelsmerk eintlik nog in sy kinderskoene is, is Tenille deur die digitale kanaal WonderTV opgeraap vir die maak van 'n nuwe leefstylprogram waarvan 13 episodes verfilm is.
Werkloos
Tenille het in haar hoërskooljare op Mosselbaai gewoon en is 'n oud-Kwagga. Haar ouers woon steeds hier. Haar ma is Elaine Stander, bekende swemafrigter en predikantsvrou.
In Julie, het Tenille soos baie Suid-Afrikaners die volle impak van Covid-19 beleef toe haar pos by die Foshini-groep beëindig is.
As enkelouer, was werkloosheid nie 'n opsie nie. Met haar agtergond as stilis en inkleder, was daar van werksgeleentheide in die tydskrifsektor geen sprake nie.
Einde Julie, net ná die verpletterende nuus kuier Tenille by haar ouers. Hierna het sy en haar seun Izak (8) gaan kamp. "Toe ek die braaibroodjie so omdraai, toe tref dit my, ek gaan 'n braaihandelsmerk vir vroue skep."
As uiteinde van haar aha-oomblik, is Braaidsmaid op 1 Augustus gebore.
"Op pad huis toe, het ek 'n vriendin met 'n sakebrein gebel en my idee op haar getoets. By die huis gekom, het ek groot en belaglik gaan dink. Ek het gedink aan produkte, branded T-hemde, skoene selfs 'n televisieprogram." En siedaar, hulle sê nie verniet dat as jou droom jou nie bangmaak nie, is dit nie groot genoeg nie.
Die leefstylprogram op WonderTV, waarvan Tenille die aanbieder is, is juis daarop gemik om die gaping wat ontstaan het nadat soveel vrouetydskrifte tydens die Covid-19-pandemie moes sluit, te vul.
Braaistories
Tenille sê haar handelsmerk is daaruit gebore dat elke vrou 'n braaistorie het. "Daar is soveel vroue wat alleen is, vir watter rede ookal, en nie kan rondsit en wag vir 'n man om te braai nie. My eerste braai as enkelma het ek met 'n botteltjie naellakverwyderaar aan die gang gekry." Die heel eerste episode van haar leefstylreeks gaan hoeka oor braaihout.
Sy wil die vrees en stigma vir vroue uit braai haal. "Vroue is so amazing in die kombuis, waarom dan nie om die braaivleisvuur ook nie?"
Die produkte in haar reeks is bekostigbaar. "Ek is my eie teikenmark. As enkelouer is daar so baie mooi produkte, maar dis net te duur." Haar eerste kliënt, was haar seun Izak. "Hy kon nie wag om te shop nie."
Tenille rond die prentjie af met die klinkklare definisie wat 'n "braaidsmaid" nou eintlik is. 'n Gedeelte daarvan lui so: a strong girl or woman, usually one of several, who knows her way around a braai. A caring and supporting figure within her tribe. (A woman with fire in her veins)
*Die eerste vrou wat vandag, 27 November voor 13:00 'n kopie van vandeesweek se uitgawe na die kantoor van die Mossel Bay Advertiser in Kerkstraat 9 bring, kom in aanmerking vir 'n Braaidsmaid-geskenkpakkie.
Tenille Swanepoel en haar eerste kliënt, haar seun Izak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'