TUINROETE | KAROO NUUS - Oudredakteur van Oudtshoorn Courant en huidige woordvoerder van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit se burgemeesterskantoor, Hannes Visser, het onlangs sy vierde boek wat hy self gepen het bekendgestel, Voorblad - 'n misdaadroman wat lesers op 'n reis saam met joernalis Alex Rheeder neem.
Volgens Visser is hierdie boek reeds as konsep in 2014 begin, en het een slagoffer vir byna drie jaar onder in 'n swembad gelê, skerts hy, voor Visser hom kon uitkry.
Hy het, volgens Visser, sekerlik twee jaar intens aan die boek gewerk. Die boek was reeds in 2020 klaar geskryf, maar weens Covid-19 het die belangstellende uitgewer gesê dat geen nuwe boeke vrygestel gaan word nie.
"Toe het ek hom maar gehou, en Naledi-uitgewers het my hierdie jaar genader en gevra of ek nie die boek vir hulle wil gee nie," vertel hy.
Voorblad is onlangs in Durbanville bekendgestel, en op 16 November sal die boek in Oudtshoorn bekendgestel word. Na dit sal nog vele meer bekendstellings plaasvind, onder meer een deur NALN (National Afrikaans Literary Museum and Research Centre) in Bloemfontein. "Dit is 'n baie gerekende sentrum. Hulle hou al die Afrikaanse boeke aan."
Visser se boek is reeds oral beskikbaar, onder meer by PNA in Oudtshoorn, Exclusive Books in George en Bargain Books. Mens kan vir Visser self kontak.
Hy vertel dat hy spesifiek 'n misdaad-roman wou skryf waar die polisieman self nie die held is nie. "In meeste misdaadromans is die polisieman, met sy uitdagings en tekortkominge, op die ou einde die een wat die held is. Ek het besluit, weens my ondervinding as joernalis en om bietjie te 'kroek', om my hoofkarakter 'n joernalis te maak. Die ondersoekbeampte in die storie is 'n gewillige en bevoegde ou, maar hy is nie vreeslik lus vir dinge nie. Later kom mens wel agter dat hy 'n goeie polisieman is. Daar is groot konflik tussen hom en die joernalis."
Die storie handel merendeels oor 'n reeks moorde wat gepleeg word, en om een of ander rede lig die moordenaar - en om ekstra intrige in te bring voeg Visser "moordenaars" by - die joernalis in wanneer die moorde gepleeg word. Dit veroorsaak natuurlik verder konflik tussen Alex Rheeder, die joernalis, en kaptein Harold Beukes, die ondersoekbeampte.
In die toekoms beplan Visser 'n opvolg, en werk hy ook aan ander boeke. Een, wat meer ernstig is, handel oor 'n man met obsessiewe kompulsiewe versteuring, 'n ander is 'n moontlike opvolg tot Voorblad. In hierdie verhale werk hy ook met kenners in onderskeie velde om akkuraat die storie te kan vertel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’