MOSSELBAAI NUUS - Wind wat by tye teen meer as 80km/h die vlamme aangejaag het, het 'n brand in die Hartenbos Heuwels-omgewing buite beheer laat woed. Op Maandag, 21 Januarie is die vlamme tussen Menkenkop en Hartenbos Heuwels opgemerk en teen 15:58 is berig ontvang dat die brand onder beheer is. Daarna is met opruimingswerk begin.
Skade, beserings
Twee brandbestryders is beseer, twee huise is vernietig en sommige ander huise het brandskade opgedoen. Geen lewensverliese is aangemeld nie, hoewel sommige inwoners probleme met rookinaseming, selfs skrape en snyplekke ondervind het.
Kooltjies van die vuur het in die kraag van die beskermende uniform van een van die brandbestryders beland. Nadat sy kollegas hom op die toneel behandel het, het hy verkies om voort te gaan met brandbestryding. 'n Ander brandbestryder is behandel nadat 'n kooltjie vuur in een van sy oë beland het.
Troeteldiere
Die Garden Route DBV van Mosselbaai het 27 troeteldiere, waaronder net een kat genaamd Hazel, gered. Troeteldiereienaars wat hul honde of kat vermis, kan die DBV kontak (072 287 1761 of 082 378 7384) of besoek in Bill Jefferey-rylaan.
Die Hartenbos-dierehospitaal is voorkomend ontruim om die pasiënte die trauma van rookinaseming te spaar. Die vlamme is op die sypaadjie direk voor die dierehospitaal geblus. Hierbenewens het vrywilligers van S.M.A.R.T. die area ná die brand saam met personeel van die DBV gefynkam vir beseerde diere wat hulp sou benodig.
Kyk 'n video hieronder:
Situasie ernstig
"Die situasie was baie ernstig," berig die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee. "Met 'n uiters sterk wind wat die vlamme van een droë plant na die volgende gejaag het, kon die skade baie erger gewees het. Twee wonings, uit die honderde wat vernietig kon word, is onherstelbaar in die brand beskadig. Die twee wonings is ongeveer 1.3km van mekaar (in teenoorgestelde dele van Hartenbos Heuwels) geleë."
Hy het veral die goeie samewerking tussen al die rolspelers benadruk as een van die redes waarom die brande so vinnig en effektief bestry is.
Boonop het die brand tot anderkant die R328, die pad na Oudtshoorn, versprei. Die R328 was vir geruime tyd vir verkeer gesluit en paaie in die betrokke woongebiede was vir inkomende verkeer gesluit.
Paaie binne die woongebiede is weens digte rook vir verkeer gesluit. Die R328 was ook vir geruime tyd gesluit nadat die brand van Hartenbos Heuwels tot oor die pad versprei het.
Hoewel die hoof van Mosselbaai brand- en rampbestuur, Joseph Johnston geen formele opdragte gegee het nie, het sommige huiseienaars in Rooielsstraat en Neelsstraat aangedui dat hulle deur veiligheidspersoneel aangeraai is om veral hul troeteldiere en ouer mense uit die area te ontruim.
Skrikwekkend
"Dit was skrikwekkend, die geluid van dakteëls wat ontplof, die wind wat sterker en sterker waai, die magteloosheid teen die aanstormende vlamme, ek sal vandag nooit vergeet nie," berig 'n inwoner wat verkies om anoniem te bly. Sy bure het hul huis verloor. "Ek kan nie kla oor skade nie, kyk hoe lyk dit hier langsaan."
Kyk 'n video hieronder:
Na afloop van die brand het verskeie lesers hul dank uitgespreek oor die merkwaardige spanpoging van die onderskeie rolspelers wat vir die hantering van die brand verantwoordelik was.
Kommunikasie
Inwoners is sover moontlik op hoogte gehou van gebeure. "Die enigste geloofwaardige bron van geverifieerde inligting is die hoof van die brandweer wat op die toneel die brand- en reddingsoperasie bestuur het. Dit sou nie sin maak om hom onnodig te pla nie. Inligting oor die vordering van die brandbestryding, begaanbaarheid van paaie en so meer is gekommunikeer soos nodig.
Die media, buurtwaggroepe en sosiale media het 'n waardevolle rol gespeel om die gemeenskap ingelig te hou van gebeure," berig adv Giliomee, die munisipale bestuurder.
Mossel Bay Advertiser-vryskutfotograaf Tersia Marais het hierdie vrou teëgekom waar sy hardop voor haar werkgewer se huis op die gras op uitkoms gebid het.
Wonderwerke
Verskeie lesers het die wonderwerk dat nie heelwat meer huise verwoes of lewens geëis is nie, aan die krag van gebed toegeskryf. "Eensklaps het die wind bedaar. Ure van stormsterk wind het net stil geword. Daar is krag in gebed," het 'n leser op sosiale media geskryf. "Dis net 'n wonderwerk dat daar nie groter skade was nie."
Die Mossel Bay Advertiser bedank lesers vir al die foto's en video wat ontvang is.
Lees 'n verwante artikel: Hartenbos Heuwels-brand: Opvolg
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'