MOSSELBAAI NUUS - Sosiale media soos facebook en veral WhatsApp is vandeesweek ruim ingespan om inligting en veral menings oor die onlangse geweldadige onluste in Mosselbaai wyd en syd te versprei.
In sommige gevalle was die inligting besonder waardevol, veral aangesien Louis Fourieweg sporadies oop en toegemaak is vir verkeer en daar gereeld verwarring geheers het oor of die pad toeganklik is. Verskeie groepe, onder meer die onderskeie buurtwaggroepe, het hul lede baie deeglik ingelig gehou met bevestigde inligting.
Tot die teendeel, egter, is sosiale media platforms misbruik om gerugte, onbevestigde inligting en opruiende kommentaar te versprei.
Onbevestig
In een geval is beweer dat 'n munisipale voertuig gebruik is om buitebande in Groot Brak af te laai. In Groot Brak het werkers van 'n plaaslike fabriek later brandende buitebande gebruik om die pad te versper. Hierdie bewering oor die munisipale bakkie was ongegrond en misleidend.
"Die vals en ongegronde sosiale mediabewerings oor 'n munisipale voertuig wat buitebande in Groot-Brakrivier afgelaai het, is ondersoek. As munisipale bestuurder kan ek bevestig opdrag gegee is dat alle bewerings, ongeag hoe ongegrond dit mag wees, ondersoek moet word," het adv Thys Giliomee aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Die betrokke voertuig waarna verwys is se opspoorstelsel is nagegaan, verklarings is bekom van die voertuigbestuurder, die werkers en van ander persone wat op die toneel was. Die munisipale voertuig ter sprake het geen buitebande vervoer nie.
Die voertuig was in Groot-Brakrivier op instruksie om die watertoevoer na die publieke toilet daar te herstel. Hierdie herstelwerk is suksesvol gedoen.
Misbruik
Advokaat Giliomee het bevestig dat, na deeglike ondersoek is dit duidelik dat persone sosiale media misbruik om kwaadwillige, ongegronde, ernstige aantygings te maak teen 'n munisipale amptenaar wat sy werk pligsgetrou en korrek verrig het.
"Die publiek word versoek om nie kwaadwillige en ongegronde aantygings teen die uitstekende amptenare van Mosselbaai-munisipaliteit te maak nie. Die persone wat die vals inligting versprei het, kan die betrokke amptenaar gerus om verskoning te vra," aldus adv Giliomee.
Inwoners se kommer oor die geweldadige onluste is verstaanbaar. Tog is uit verskeie oorde versoeke ontvang dat lesers liefs verantwoordelik met inligting moet omgaan.
Formele sosiale platforms, soos dié van gevestigde media of geregistreerde buurtwagte sal bevestigde, betroubare inligting versprei.
"Amptelike, bevestigde inligting word deurentyd deur die munisipaliteit en ander rolspelers met die onderskeie geregistreerde media gedeel, stemopnames van beide die munisipale bestuurder en woordvoerder word gereeld versprei met tydige, betroubare inligting oor die situasie," sê die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'