MOSSELBAAI NUUS - 'n Versorger (38) wat na bewering sowat R123 000 van 'n kliënt (72) gesteel het wat sy in 'n privaatwoning in Reebok versorg het, het op Dinsdag, 30 Januarie in die landdroshof op Groot-Brakrivier op 'n aanklag van diefstal verskyn.
Die verdagte is 'n werknemer van 'n versorgingsmaatskappy en het 'n vorige soortgelyke veroordeling waarvoor sy 'n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê is.
Die opgeskorte vonnis het nog nie verstryk nie.
Die slagoffer het die Mossel Bay Advertiser versoek om nie haar identiteit of die identiteit van die verdagte bekend te maak nie.
Volgens die slagoffer het sy die versorger met haar lewe vertrou.
"My oorlede man het vir my geld gelos sodat ek vir 'n tyd kon aangaan terwyl die boedel afgehandel word. Ek was siek en het my bankkaart vir die versorger gegee sodat sy vir my geld kon trek."
Volgens die slagoffer het sy op sms'e gesien dat daar geld vanaf Oktober 2017 tot Januarie 2018 uit haar rekening getrek word, maar sy was onder die indruk dat dit dalk haar dogter is wat die ontrekkings gedoen het.
Tussen R3000 en R5000 is per keer vanuit die betrokke bankrekening onttrek.
"My dogter het gesê dit is nie sy wat die onttrekkings gedoen het nie nie. Ek en die versorger het nog saam in die sitkamer gesit en die saak bespreek toe ek weer 'n sms kry dat daar R3 000 onttrek is.
"Ek het nog aan haar gesê, ten minste weet ek dit is nie sy nie, maar op daardie spesifieke dag, het sy my bankkaart vir haar dogter gegee."
Die versorger is saam met die slagoffer bank toe om na bankstate te kyk.
"Ons het nog saam na die bankstate gekyk en sy't nog vir my gewys op watter datums al die onttrekkings gedoen is."
Die versorger was ook saam met die slagoffer na die polisiestasie om 'n saak van diefstal aanhangig te maak.
Volgens die woordvoerder van die polisie op Groot-Brakrivier, sers Chantel Marais het die verdagte se gewete haar na bewering begin pla.
"Sy het 'n bekentenis gemaak, nadat 'n saak van diefstal gemaak is."
Die slagoffer sê sy het amper 'n hartaanval gekry toe sy hoor dat dit die versorger is wat haar besteel het.
"'n Versorger word soos jou familie. Daardie persoon help jou om jou lyf te was. Die saak is vir my moeilik. Ek is getraumatiseerd. My raad is, vertrou niemand."
Volgens die slagoffer is sy in gesprek met die versorgingsmaatskappy aangesien sy die maatskappy betaal het en nie die versorger nie.
"Volgens hulle was ek nalatig, maar ek is van mening dat hulle rekords moet nagaan voordat hulle iemand aanstel."
Die versorger bly in aanhouding en verskyn weer op 6 Februarie in die hof op Groot-Brakrivier.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'