MOSSELBAAI NUUS - Twee persone het in KwaNonqaba die afgelope naweek gewelddadig gesterf in twee onverwante voorvalle.
In die eerste geval in Ntjalalastraat is die identiteit van die oorledene, wat vermoor is, steeds onbekend en die KwaNonqaba-polisie doen 'n beroep op die gemeenskap om enige persoon wat vermis word, aan te meld.
Die polisie het reeds twee verdagtes vir die moord op 25 Augustus om ongeveer 21:00 aangekeer.
Die verdagtes sou die afgelope Dinsdag in die Mosselbaai-landdroshof voorgekom het. Enige persoon met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, ao Errol Barnard (044 606 5600) te kontak.
In die tweede moord in KwaNonqaba die afgelope naweek is 'n persoon op 26 Augustus om 01:00 met 'n mes toegetakel in 'n onderonsie wat tussen 'n paar mans by 'n plaaslike kuierplek ontstaan het. Twee verdagtes is reeds deur die polisie gearresteer.
Na bewering het die slagoffer van sy aanvallers gevlug en by 'n huis in Scholtzstraat om hulp aangeklop. Toe die inwoners die woning se deur oopmaak, het die slagoffer egter inmekaargesak waarna hy gesterf het.
Enige persoon met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, ao Geoffery Moos (044 606 5600) te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'