MOSSELBAAI NUUS - 'n Groep jong mans wat beroof is toe hulle te voet van 'n kuierplek af op pad huis toe was, het dansky wakker optrede van lede van die Da Gamaskop-polisie, hulle goedere teruggekry.
Volgens inligting ontvang van die polisie, het drie jong mans, tussen 18- en 21-jarige ouderdom op 23 Februarie om 01:30 teruggestap Hartenbos toe vanaf 'n kuierplek in Voorbaai, toe vier gewapende mans hulle gekonfronteer het.
Die vermeende rowers het die jong mans van al hulle besittings, insluitend sakke met klerasie, selfone, kontant asook sonbrille beroof waarna hulle op die vlug geslaan het. Die jong mans het daarin geslaag om die polisie in kennis te stel van die voorval, waarna 'n patrollievoertuig na die verdagtes begin soek het.
Sersante Likhaya James en Dayle Brandt het twee verdagtes kort ná die voorval suksesvol gearresteer, terwyl hulle nog in besit van die gesteelde eiendom was. Twee ander verdagtes is kort daarna deur reservis-konstabel Deon Booysen in Sonskynvallei vasgetrek. Al die gesteelde goedere is teruggevind en aan die regmatige eienaars terugbesorg.
Die verdagtes is almal tussen 18- en 20-jarige ouderdom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'