MOSSELBAAI NUUS - Moet dit nie eens probeer nie. Dít is die boodskap wat duidelik spreek uit die optrede van die munisipale verkeersbeampte, mnr Joka wat 'n motorfietsryer wat hom na bewering wou omkoop, summier aangekla het.
Zwelethemba Joka was besig met 'n roetine-ondersoek in Bill Jeffereyrylaan toe hy 'n motorfietsryer stop. Die motorfiets se lisensie het getoon dat dit eers einde November sou verval, maar dit het egter vir die verkeersbeampte nie na 'n oorspronklike lisensie gelyk nie. Joka het `n navraag by die lisensiekantore gedoen en daar is bevind dat die lisensie reeds in 2016 verval het.
Toe die verkeersbeampte aan die motorfietsryer sê dat hy gearresteer gaan word op 'n klag van bedrog, het die motorfietsryer hom glo `n R100 as omkoopgeld aangebied.
Joka het daarna 'n tweede saak vir die omkoop van `n verkeersbeampte teen die motorfietsryer geopen. Die motorfietsryer het egter by die polisiekantoor die lisensieskyfie gegryp en dit in sy mond gedruk in 'n poging om die bewyse te vernietig. Joka het gevolglik 'n derde klagte vir die vernietiging van 'n bewysstuk geregistreer.
Die munisipale hoof van wetstoepassing, Henry Williamson het Joka vir sy optrede geprys en gesê hy is "trots om so 'n lid in ons diens te kan hê wat nie voor die versoeking van omkopery swig nie".
Die direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel het die beampte bedank vir sy oplettendheid.
"Dankie vir die trots wat jy toon in die werk wat jy doen en die gemeenskap wat jy dien."
Munisipale verkeersbeampte, mnr Joka (middel) word gelukgewens met die arrestasie van 'n motorfietsryer wat hom probeer omkoop het en boonop daarna bewysstukke probeer insluk het. By hom is die portfoliovoorsitter van gemeenskapsake. raadslid Booisen, skofleier Boshoff, die hoof van wetstoepassing, mnr Williamson en die direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel.
Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'