MOSSELBAAI NUUS - 'n Egpaar van Munyustraat, KwaNonqaba, wat algemeen bekend staan as twee "dwelmgroothandelaars", het op 24 Januarie in die Mosselbaai-landdroshof aansoek gedoen om borgtog.
Die egpaar het gedurende Augustus 2016 op vier geleenthede mandrax-tablette aan 'n polisie-agent verkoop tydens 'n bedekte optrede.
Die waarde van die dwelms wat tydens hierdie optrede verkoop is, is R11 500.
Geklassifiseer as bylae 5-oortreders, moes die beskuldigde egpaar die hof oortuig dat dit in die belang van geregtigheid is dat hulle vrygelaat moet word.
Landdros Hendricks het uitspraak voorbehou tot 30 Januarie.
Adjudant-offiser Deon Louw van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling is die ondersoekbeampte in die saak en die bedekte optrede is gekoördineer deur sers JM Spangeberg van die Langeberg K9-eenheid.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'