Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Gautengse man wat 'n plaaslike sakeman na bewering uit meer as R500 000 geswendel het, het vandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn. Dale Ronald Harmse (50) staan tereg op 'n klag van bedrog na hy homself na bewering as 'n advokaat voorgedoen het.
Harmse het vandag aangedui dat hy skuldig op die klagte teen hom wil pleit en dat hy homself in die saak gaan verteenwoordig omdat hy regsagtergrond het.
Hy het ook teenoor die hof erken dat hy vorige veroordelings het.
Volgens hom het hy gehoop om die saak af te handel omdat hy sake in Krugersdorp het wat hy op 11 Januarie moet afhandel. Hy wil ook nie om borgtog aansoek doen.
Stephanie Strydom, die staatsaanklaer, het egter gesê dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie en dat die streekshof vrae het oor die ondersoek. Sy het ook aangedui dat daar 'n moontlikheid is dat daar nog 'n beskuldigde in die saak kan wees. Die saak is tot 13 Januarie 2021 uitgestel.
Die Oudtshoorn Courant het die week berig dat Harmse die week in Krugersdorp se gevangenis gevind is na hy daar op 'n klag in hegtenis geneem is.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê dat 'n lasbrief vir sy arrestasie in Oudtshoorn uitgereik is en dat hy opgrond daarvan uit Krugersdorp na Oudtshoorn gebring is.
Volgens Visser word die man ook vir 'n bedrogklag in Mosselbaai gesoek.
Vorige artikel: Man verloor R500 000
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'