MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers kan op Woensdag, 6 September, vermaak uit die boonste rakke beleef wanneer die charismatiese en internasionaal-gewilde bas-bariton, Christiaan Snyman hier optree.
Hy gaan Mosselbaaiers bekoor met 'n program van gewilde uittreksels uit opera, film en musiekblyspele.
Lizette Vosloo, wat lid is van die Pretoria Simfonieorkes sowel as die Quarter2Four String Quartet, tree ook op en die immergewilde pianis Olive Sandilands gaan sorg vir begeleiding uit die boonste rakke. Olive en Lizette het ook 'n verrassing of twee by die program ingesluit.
Suid-Afrikaners is in rep en roer dat Christiaan weer terug in die land is na 'n hele klompie jare in Europa.
Die noukeurig-uitgesoekte program sluit in uittreksels uit My Fair Lady, Fiddler on the Roof, South Pacific, Sound of Music, Händel se Largo, Intermezzo van Cavalleria Rusticana en Kreisler se Miniature Viennese Waltz. Hulle het ook nie van Schumann, Verdi en Strauss vergeet nie!
Dit vind Woensdag, 6 September, om 19:00 in die Mosselbaai NG Moederkerk se Klipkerksaal in Kerkstraat plaas.
Deure open 18:00. Kaartjies kan by Abé Meintjes (083 268 3718) bespreek word. Besprekings voor 1 September kan bekom word teen R120 elk. Daarna is die prys R150 per sitplek.
Die internasionaal-erkended bas-bariton, Christiaan Snyman.
Violis Lizette Vosloo wat 'n lid is van die Pretoria Simfonieorkes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’