TUINROETE DISTRIKSNUUS - Die Vermaak-broers en hulle gesinne moes verlede week binne drie dae van hulle pa en ma afskeid neem.
Peet Vermaak, broer van Christo Vermaak, wat reeds jare 'n joernalis by Group Editors is, het Dinsdag die familie se verlies met die media gedeel.
Hulle pa, Johan (Boet) Vermaak (82) en ma, Aletta (Wilma) (79), is onderskeidelik verlede week op Woensdag en Saterdag oorlede nadat hulle saam in die hospitaal opgeneem was en positief vir Covid-19 getoets is.
Boet Vermaak het bykans 56 jaar by verskeie munisipaliteite as stadsingenieur gewerk en was vanaf 1996 tot 2012 in diens van die Oudtshoorn-munisipaliteit tot met sy aftrede toe hy al in sy sewentigs was.
"My ma en my pa het die virus oorwin, maar die skade wat aan hulle liggame aangerig is, was eenvoudig net te groot," het Peet gesê. Volgens hom is sy ma sowat twee weke gelede in die Mediclinic Klein-Karoo opgeneem met longprobleme waaraan sy al 'n geruime tyd ly. Sy is as roetine ook vir Covid-19 getoets en die uitslag was positief.
"My pa moes in die huis in Millenniumpark in afsondering bly en ons kon deur die venster met hom gesels, maar ons het agtergekom hy begin deurmekaarraak en het onraad vermoed," sê Peet.
Sy pa is dokter toe geneem en daar is bevind dat hy Covid-19 onderlede het en hy is saam net sy vrou in dieselfde saal geplaas. Peet vertel dat sy ma verlede Donderdag Covid-vry was en na 'n gewone kamer in die hospitaal geskuif is. "My pa se toestand het egter vinnig verswak en ons is Woensdagmiddag na hom toe, maar hy was nie meer wakker nie. Ek en Maureen (Peet se vrou) en ds. Deon van der Walt was by hom toe hy sy laaste asem uitgeblaas het."
Peet sê die skok van sy pa se dood was te groot vir sy ma om te verwerk.
"Ons kon haar Vrydag by die hospitaal gaan haal en sy is in Millenniumpark se versorgingseenheid opgeneem, waar die personeel ongelooflik was."
Sy het volgens Peet heeltyd gevra wanneer kom die oudste broer Hendrik wat in Australië woon, en Peet moes aan haar verduidelik dat Hendrik as gevolg van die reisbeperkings nie sal kan kom nie.
"Dis asof my ma daarmee berusting gevind het, sy het net geknik en Saterdagaand net na tien is sy ook oorlede. Dit nadat dit vroeër die aand gelyk het asof sy verbeter,"
Peet en sy vrou, Maureen, sê mense onderskat die virus. "Dit is heeltemal onvoorspelbaar, een dag het dit gelyk of my ouers regkom, die volgende dag was hulle erger, en dan het daar weer 'n opflikkering gekom."
'n Begrafnis vir naaste vriende en familie word vandag (Donderdag 1 Oktober) gehou.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'