Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Hoe dikwels wens 'n mens nie dat jy vir 'n oomblik of twee, die tyd kan laat stilstaan nie?
'n Pas verloofde paartjie van Mosselbaai het nou wel nie die horlosiewysers kon vashou nie, maar hulle het die bykans konstante stroom verkeer op Marshstraat tot stilstand gedwing toe Hannes sy Bianca op Saterdagaand, 9 Desember om die jawoord gevra het.
Wat die geleentheid des te meer spesiaal maak, is die sameval met die tradisionele aanskakel van Mosselbaai se feesliggies.
Hannes de Witt het Secunda ongeveer twee jaar gelede vir 'n rustiger lewe aan die kus verruil.
Bo en behalwe dat hy meen hy baie lekker hier bly, het hy agter 'n trekpleister, Biance Bonthuys aan, getrek.
Die twee het tydens een van Hannes se kuiers in Mosselbaai ontmoet en sy sê dit was "love at first sight". Wat die tweetjies se beplande huwelik besonders maak, is dat hulle 'n troudatum gehad het, nog voor Saterdagaand se huweliksaanbod.
"Ons trou volgende jaar op 7 April. Ons moes dit so reël om ons families te kon akkommodeer tydens die skoolvakansie omdat almal van ver moet kom," verduidelik Bianca.
Hulle wou eintlik op 14 April die knoop deurhaak toe hulle "kys" amptelik begin het.
Hannes sê verloof raak is net 'n formaliteit. "'n Mens kan dit die aand voor die tyd ook doen," meen hy, verwysend na die dag voor die troudatum.
Maar dit blyk asof hy 'n meer romantiese streep het. Met die ring reeds gekoop, het dit hom so twee dae voor hy die jawoord gevra het "begin brand".
Kyk 'n video hieronder:
Hy het egter eers vroeër die dag Saterdag gehoor dat die Kersliggies aangeskakel word en toe het sy plan eers begin vorm aanneem.
Die tweetjies is met piekniekmandjie en al na die Harry Giddey-park, maar Hannes het 'n ander plan in die skild gevoer.
Later die aand toe die paartjie lekker gemaklik by 'n kuierplek in Marshstraat is, vra hy sy "Babes" om gou na ietsie buite te kom kyk.
En net daar stap hy die pad in, stop die verkeer en gaan op sy knie om die jawoord te vra. "Ek wou hê die verkeer moes stop." Motoriste het gemoedelik getoet en selfs hulle hoofligte aangesit om meer "lig op die saak te werp".
"Ek het dit glad nie verwag nie," sê Bianca. En dít blyk duidelik uit haar reaksie wat op video vasgelê is toe Hannes haar so verras.
ARTIKEL & VIDEO: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'