Die feit dat ons land een van die ergste verkragtingprobleme in die wêreld het, is deur verskeie studies deur verskillende instansies gestaaf. Dokters Sonder Grense het gevind dat 'n vrou elke 26 sekondes gemolesteer word, 'n syfer wat net deur lande in 'n oorlogsituasie geëwenaar word. In die tagtigerjare was die amptelike verkragtingsyfer ongeveer 16 000 per jaar, maar teen 2006 het dié syfer gestyg en was daar 55 000 gerapporteerde verkragtings.
Meeste verkragtings word nie aangemeld nie
'n Geskatte 450 000 verkragtings word nie aangemeld word nie en die verkragters is meestal iemand wat die slagoffer ken. Dit word gebaseer op die projeksies deur die Nasionale Instituut vir Misdaad Rehabilitasie dat slegs een uit elke twintig verkragtings aangemeld word.
Dit beteken dat ongeveer een duisend drie honderd vroue in die land per dag kan verwag om verkrag te word. In 2009 het 'n studie deur die regering se Mediese Navorsingsraad (MNR) onthul dat meer as 'n kwart van Suid-Afrikaanse mans erken dat hulle 'n vrou of meisie verkrag het en dat 9.8% persent 'n slagoffer die eerste keer onder die ouderdom van 10 verkrag het. Die MNR-studie het gevind dat net een uit 25 verkragtings aan die polisie gerapporteer word en dat een uit vyf self-erkende verkragters MIV-positief is. Hierdie dade van seksuele geweld word geassosieer met kriminele aktiwiteit en huishoudelike geweld. (Sapa, Maart 2011).
Volgens Monitor RSG (radiostasie) op 9 November 2011 word ‘n vrou elke drie minute in die land verkrag. In 'n studie deur die Mediese Navorsing Stigting, Gauteng in 2010 het meer as 37% van die mans gesê hulle het al 'n vrou verkrag en 7% het deelgeneem aan 'n bende verkragting.
Die grootste toename in aanvalle is teen kinders onder sewe. In 2001 was 'n nege-maande-oue baba deur ses mans tussen die ouderdomme van 24 en 66 verkrag en ‘n 14-maande-oue dogtertjie is deur haar twee ooms verkrag. In Februarie 2002 is 'n agt-maande-oue baba deur ‘n bende van vier mans verkrag, waarvan net een aangekla is. 'n Skokkende feit is dat kindermisbruik dikwels deur familielede is - selfs hul vaders en versorgers.
Tieners is grootste teiken
Die minister vir vroue, kinders en mense met gebreke, Lulu Xingwana sê dat Suid-Afrikaanse kinders van 12 tot 17 'n groter kans het om verkrag te word as landsburgers van enige ander ouderdom. Die bevinding is gebaseer op 'n studie van mense wat hulp gesoek het by die openbare Thuthuzela sentrums vir die slagoffers van verkragting dwarsdeur die land.
"Die groep kinders tussen die ouderdomme van 12 en 17 blyk die kwesbaarste groep te wees en vorm die meerderheid – ongeveer 15 000 - van die mense wat hierdie sentrums besoek". Sy sê dat meer as 34 000 slagoffers die sentrums gedurende die drie jaar op rekord besoek het.
Berigte net in News24 alleen vir Februarie vanjaar oor verkragtings regoor Suid-Afrika lui so: Bejaarde vrou in haar huis verkrag (Kwa-Zulu Natal); Raadslid se dogter verkrag (Grabouw)(beide die 20ste); Tienermeisie in Oos-Kaap verkrag (16-jarige)(19de); Man wat ryloop, deur ses mans verkrag (Noordwes)(18de); Man vas na hy 100-jarige verkrag (Oos-Kaap)(16de); Vrou (98) verkrag, vermoor (Noordwes)(14de); Man vas na hy glo meisie (6) verkrag (Vrystaat)(13de); Noordwes pastoor in hof na beweerde verkragting (13de); Man soek na hy glo susterskind verkrag (9de); Pastoor vas na hy glo vrou in kerk verkrag (Soweto)(9de); Verpleër in hof wat kankerpasiënt verkrag (Bloemfontein)(6de) - en dit is nie eens almal nie en slegs een medium.
Amptelike statistiek
Die volgende inligting is uit die misdaadstatistiek vir Suid-Afrika 2010:
- 2003/4 - 66 079
- 2004/5 - 69 117
- 2005/6 - 68 076
- 2006/7 - 65 201
- 2007/8 - 63 818
- 2008/9 - 70 514
- 2009/10 - 68 332
- 2010/11 - 66 196
- 2011/12 - 64154
In dié provinsie was daar 911 verkragtings en poging tot verkragting-sake aangemeld vir die boekjaar April 2010 tot Maart 2011 en 916 vir die tydperk 2011/2012.