Update
TUINROETE | KAROO NUUS - Die saak teen 'n man van Hartenbos wat teregstaan op ses aanklagte van verkrag-ting en seksuele aanranding van twee minderjarige seuns, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel.
Righardt Myburg word daarvan aangekla dat hy tussen 2014 en 2019 die twee broers by verskeie geleenthede verkrag en seksueel aangerand het.
Volgens die kinders se ma het hulle lank hieroor stilgebly omdat hulle haar glo nie wou seermaak nie. Sy was erg geskok toe sy daarvan gehoor het omdat sy Myburg vertrou het.
Myburg ontken die bewerings van die kinders en voer aan dat hy nie weet waarvan hulle praat nie. Volgens hom het hulle die klagtes teen hom gemaak nadat hy die oudste met pornografie op sy selfoon betrap het.
Sy regsverteenwoordiger vra die hof om hom vry te spreek op al die aanklagte omdat daar geen getuienis voor die hof is om hom skuldig te bevind nie.
Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, is egter van mening dat Myburgh sy weergawe aanpas en dit nie redelik moontlik waar is nie.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en is vir uitspraak tot 1 Junie uitgestel. Myburg bly in aanhouding.
Vorige artikel: Man van Hartenbos in hof op seksklagte
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’