MOSSELBAAI NUUS - 'n Twee-en-twintigjarige man het op Vrydag, 15 November in die Groot-Brakrivier-landdroshof verskyn nadat hy na bewering 'n 14-jarige meisie in haar slaap verkrag het.
Volgens die polisie het die voorval op 10 November aan huis van die meisie se ouma op Groot-Brakrivier plaasgevind.
Die slagoffer het in die huis geslaap terwyl die verdagte saam met vriende by die huis gekuier het. Sy het wakker geword terwyl hy haar vasgedruk en verkrag het. Die meisie het beserings opgedoen en moes mediese behandeling ontvang.
Die voorval is 'n bylaag ses misdaad en die verdagte bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning waar hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.
Aslapark
In 'n afsonderlike voorval is 'n 14-jarige meisie onlangs in Aslapark verkrag. Die slagoffer het na haar huis gestap waarna die 27-jarige verdagte haar in die straat gegryp het en by sy woning ingetrek het. Hy het haar verkrag waarna sy daarin kon slaag om te ontsnap.
Die verdagte is deur ao Alistair Rezant van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming, en seksuele misdrywe in hegtenis geneem. Hy bly in aanhouding en verskyn weer op 21 November in die Mosselbaai-landdroshof op 'n aanklag van verkragting.
'Ons bring jou die nuutste nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'