MOSSELBAAI NUUS - Munisipale verkeersbeamptes van Mosselbaai het vanoggend drie huisbraak verdagtes vasgekeer en aan die polisie op Groot-Brakrivier oorhandig.
Die verkeersbeamptes het om 04:00 Hoopstraat op Groot Brak gepatrolleer na afloop van klagtes deur inwoners dat die straat onder huisbrake deurloop. Een van die verkeersbeamptes het gesien hoe twee verdagtes in ‘n huis in die straat ingaan.
Hy het soontoe gery en deur die venster die verdagtes in die huis dopgehou. 'n Betrouebare bron het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat die polisie op Groot-Brakrivier van die voorval ingelig is, maar dat daar glo slegs een polisiebeampte aan diens in die polisiestasie was en hy dus nie na die toneel kon gaan nie.
Die verkeersbeampte het versterking ingeroep waarna nog verkeersbeamptes opgedaag het en drie verdagtes binne die woning vasgekeer is.
‘n Polisiebeampte van Groot Brak wat na bewering nie aandiens was nie, is van die voorval ingelig en het glo in sy privaatvoertuig die verdagtes na die polisie se aanhoudingselle geneem.
‘n Saak van huisbraak is geopen.
Die verdagtes wat tydens die voorval in hegtenis geneem is.
Die gebeurtenis is ‘n aanduiding dat Mosselbaai se wetstoepassers na alle vorme van veiligheid kyk.
Intussen het verskeie inwoners in Hoopstraat oor misdaad in die gebied gekla.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'