Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Daar is etlike maniere om jou verjaarsdag te vier en 'n tekort aan vindingryke idees, beslis nie. 'n Vrou van Mosselbaai het besluit om haar 60ste verjaarsdag aan te bied, as 'n fondsinsameling.
Claire du Plessis is 'n bekende op Mosselbaai, as gemeenskapsleier, deur haar verbintenis met die opvoedkunde en jongmense, asook vanweë die leidende rol wat sy by diensorganisasies soos die Rotariërklub van Mosselbaai gespeel het.
Claire het onlangs haar verjaarsdag gevier en daarmee saam, 'n spoggeleentheid gehou waartydens organisasies die tafels te koop aangebied het om geld vir hulle projekte in te samel.
Haar konsep was om 'n platform en geleentheid te skep om nie-winsgewende en liefdadigheidsorganisasies, kerke, sportklubs en dies meer die kans te gee om te fondse in.
"Almal sukkel om te doen wat hulle beoog om te doen. Of dit nou 'n enkelouer is wat gehelp moet word, jeug wat van die strate gehou moet word, siele te red – alles verg geld en hulpbronne."
'n Spogtee is in die Mosselbaai-stadsaal op Sondag, 13 Maart aangebied.
Haar oogmerk is geensins om die fokus op haar verjaarsdag te laat val nie, maar eerder op dankbaarheid vir die geskenk van lewe – te midde die verlies en verwoesting van die Covid-19-pandemie.
"Mens kan ook nie buite rekening laat dat om saam te werk en dinge saam te doen, 'n meervuldige effek en impak bewerkstellig nie," noem Du Plessis.
Sy voel ook dat geleenthede soos hierdie, ter viering van 'n verjaarsdag, is deel daarvan om die doel van jou geboorte te ontdek en waarom die lewe aan jou geskenk is.
FOTOGALERY: Spogtee as fondsinsamelingsgeleentheid vir ander gehou
Gaste wat aan die viering deelgeneem het, kon kwalik uitgepraat raak oor nie net die besonderse geleentheid nie, maar ook dat hulle 'n kans gekry het om vir 'n saak waarvoor hulle sterk voel, te kan fondse insamel.
Van die deelnemers het hulle kaartjies verkoop om fondse te in vir 'n klankstelsel die vir hul kerk se jeug. Ander weer om sportinisiatiewe onder die jeug te ondersteun. Boonop was dit 'n geleentheid om net weer 'n slag mooi te kon aantrek.
Van die groepe wat deelgeneem het is Eden Mercy Care, Tao Tao-, asook Sunbeam-kleuterskool, Kinder- en Gesinsorg, The Myrtle Tree, Shotokan Karate, drie gemeentes, 'n lewensreddingsklub, Sussex-krieketklub en ander.
"Dis so stunning. So stunning," het een vrou berig. "Ek was nog nooit by 'n high tea gewees nie."
'n Ander se reaksie was weer: "Ek het nog nooit daarvan gehoor dat iemand hulle partytjie as 'n fondsinsameling ten bate van ander aanbied nie. Wat 'n rolmodel."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'