MOSSELBAI NUUS - 'n Derde verdagte wat vroeër nie net inwoners van 'n huis in Adriaansrylaan beroof het nie, maar ook 'n polisielid wat die toneel vir leidrade gefynkam het beroof het, is in Plettenbergbaai aangekeer.
Twee verdagtes is feitlik onmiddellik opgespoor, maar die derde verdagte het die polisie aanvanklik ontglip.
Hierdie verdagte is na volgehoue ondersoekwerk deur die KwaNonqaba-polisie in Plettenbergbaai opgespoor en gearresteer.
'n Adjudant-offisier van die Kriminele Rekordsentrum op George was besig om die toneel van 'n huisroof in Adriaansrylaan te fotografeer toe hy deur drie persone, vermoedelik die rowers wat op Maandag, 17 Desember op die huis toegeslaan het, van sy kamera en persoonlike besittings beroof is.
Volgens die KwaNonqaba-polisie se woordvoerder, sers Kapp was die inwoners van 'n huis in Adriaansweg in Aslapark die slagoffers van 'n gewapende roof toe drie verdagtes op die huis toegeslaan het.
"Die polisielid was besig om die misdaadtoneel te ondersoek toe die verdagtes van die huisroof aan hom uitgewys is. Nog voordat die polisielid kon optree, het die verdagtes ook die lid met messe gedreig en van 'n kamera en persoonlike besittings beroof. Die polisielid was nie ten tye van die voorval bewapen nie," aldus sers Kapp.
'n Gesamentlike operasie het op hierdie voorval gevolg toe die hulp van onder meer die Langeberg K9 honde-eenheid en misdaadintelligensie ingespan is om na die verdagtes te soek.
Twee van die verdagtes, wat in besit van van die polisielid se besittings betrap is, is kort na die voorval aangekeer. Sersant Kapp het die polisielede en reserviste wat die jongste arrestasie uitgevoer het, vir hul volgehoue ondersoekwerk en deursettingsvermoë geloof.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'