MOSSELBAAI NUUS - Op-en-wakker inwoners het 'n verdagte (25) wat 'n 16-jarige vakansieganger op 22 Desember op Diasstrand met 'n mes gedreig en van sy selfoon beroof het, voorgekeer en hom aan die polisie oorhandig waarna hy gearresteer is.
Volgens die Da Gamaskop-polisiewoordvoerder, kapt Wollie Fourie het die slagoffer om 18:30 op 'n duin op die strand na musiek op sy selfoon deur middel van oorfone geluister.
Twee verdagtes het hom genader en gedreig waarna hy sy selfoon ter waarde van R3 000 moes oorhandig, die pinkode verander en ook kontant aan hulle moes gee. Die verdagtes het gevlug waarna lede van die publiek hulle agtervolg het.
Die een verdagte is aangekeer en die slagoffer se eiendom is in sy besit gevind. Die ander man is steeds op vryevoet.
Die verdagte is van Joe Slovo afkomstig en het vanoggend in die Mosselbaai Landdroshof verskyn op 'n aanklag van roof. Hy bly in aanhouding.
"Vakansiegangers en inwoners moet versigtig wees in die Diasstrand-omgewing en moet verkieslik eerder in groepe beweeg."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'