MOSSELBAAI NUUS - 'n Familie van Mosselbaai kom nog tot terme met die diefstal van hulle bejaarde ma se ringe by 'n plaaslike versorgingsoord in 2020.
Brenda sê haar 98-jarige ma se ringe is van haar vingers afgesteel deur 'n aflos-personeellid by die oord. Dit het glo gebeur terwyl die versorger haar gebad het.
Die verdagte is in hegtenis geneem nadat sy op sekuriteitskameras uitgeken is en dit gesien kan word hoe sy glo 'n ring van Rita van Zyl se vinger afhaal.
Van Zyl se dogters vermoed egter dat haar ander twee ringe, wat ook spoorloos verdwyn het, gesteel is. Hulle het egter nie klinkklare bewyse hiervan nie.
"My ma is intussen op 22 Desember aan Covid-verwante oorsake oorlede." Sy sê gewetenlose diefstal op weerlose bejaardes moet bekend gemaak word.
"Ons is steeds kwaad. Ringe wat gesteel is, sluit in my ma se 80-jarige trouring, 'n ring met 'n klein diamant wat sy van haar ma geërf het asook 'n goue ring met 'n groot sirkoniasteen in, wat ook omtrent 30 jaar oud was."
Volgens Brenda is die ringe vir die goudwaarde verkoop en gesmelt. Daar is dus geen manier dat hulle die ringe sal terugkry nie.
Sy sê haar ma het puik versorging by die oord gekry. "Ons blameer nie die oord nie."
Die Mossel Bay Advertiser het intussen bevestig dat die verdagte op Vrydag, 22 Januarie in die Mosselbaai-landdroshof verskyn het op 'n aanklag van diefstal. Die saak is uitgestel tot 12 April. Die ondersoekbeampte is ao Deon Louw by die Da Gamaskop-polisiestasie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'