Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Hartenbos Seefront was 'n miernes van bedrywighede die afgelope naweek waar die negende Mosselbaai Kansa Relay for Life plaasgevind het.
Die tema vanjaar was The Power of Purple en hierdie "perskrag" het gepaard gegaan met baie eerstes in die Relay se geskiedenis.
Dit was die eerste keer dat besighede op so 'n groot skaal ingekoop en betrokke geraak het.
Die dinamiese nuwe reëlingskomitee het met vars en innoverende idees vorendag gekom om die publiek, nie net bewus te maak nie, maar ook betrokke te kry by die Relay.
Saterdagoggend was dit ook vir die eerste keer dat honde wat aan die Bark for Life stap deelgeneem het, op die ATKV se wandelpad toegelaat is.
Enersyds, kry honde dieselfde tipes kanker as mense en andersyds, in baie gevalle bied die lojaliteit van hierdie dierevriende, vertroosting en kameraadskap aan kankerlyers.
Kyk 'n video hier:
Die Relay for Life het ook vanjaar by die ATKV-pretpark plaasgevind wat dit nog 'n eerste maak.
Op die pragtige terrein met sy uitstekende fasiliteite, kon al die aktiwiteite in veiligheid plaasvind.
Tydens die Relay for Life-byeenkoms, word soveel mense emosioneel geraak.
Die kankeroorwinnaars (survivors) wat met hulle spierwit serpe die Survivor-staptog doen; die versorgers wat hierdie kankeroorwinnaars vergesel op hul baie moeilike pad na herstel; die spanne wat jaarliks inskryf ter ondersteuning van hierdie fondsinsamelingsinisiatief; komiteelede, lede van die publiek en besighede wat hul harte en beursies oopmaak; kon almal weer saamstaan in die stryd teen kanker om nuwe hoop te bring.
ARTIKEL EN FOTO'S: TERSIA MARAIS, MOSSEL BAY ADVERTISER CORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'