MOSSELBAAI NUUS - 'n Totaal van 34 laerskoolleerders vanaf Mosselbaai, Riversdal, Oudtshoorn, George en Sedgefield het die onlangse SJB-veldskool bygewoon.
Dit is aangebied by die Wouter de Vos-skietbaan, naby Klein-Brakrivier.
Vanaf sy stigting 28 jaar gelede, beskou die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) junior opleiding as een van die grootste prioriteite op die jaarprogram. Die vereniging word beskou as leiers op hierdie gebied.
Daarom is verskeie natuur- en jagverwante kursusse deur die jare ontwikkel om aan kinders blootstelling in die natuur te gee om hulle reeds op jeugdige ouderdom te begelei om keuses te kan maak rondom gesonde ontspanning, waarvan buitelugaktiwiteite natuurlik voorkeur geniet.
Hierdie kursusse en kampe wat deur SJB ontwikkel is, is deur CHASA (Jagterskonfederasie van Suid-Afrika) aanvaar en goedgekeur as nasionale standaard en word deur jagtersverenigings landwyd aangebied.
Die doelstellings wat nagestreef word, is om jongmense wat in die buitelewe belangstel, aan verskillende aktiwiteite soos die jagsport, kampering, rugsakstap, skyfskiet ensovoorts, bekend en bloot te stel.
Alle aanbiedings is sover moontlik prakties aangebied en ingeoefen, byvoorbeeld die regte keuse vir 'n skuiling, korrekte opslaan van 'n tent, verkryging van water vir oorlewing, knope en vaswoele, nodige hand- en noodseine, korrekte nagbeweging, hulpmiddels vir oorlewing, inheemse flora en fauna.
'n Totaal van 34 laerskoolleerders vanaf Mosselbaai, Riversdal, Oudtshoorn, George en Sedgefield het die onlangse SJB-veldskool bygewoon.
Die jonges leer ook die volgende: gevare gedurende beweging in die veld, veilige maak van vure, oordeelkundige pak van 'n rugsak en fyn waarneming met die doel om te bewonder en te bewaar, maar ook om te bewonder en te bewaar, en ook om "onbenullighede" raak te sien wat later moontlik iemand se lewe kan red.
Spanverwant
Alles het in spanverband plaasgevind met groot onderlinge kompetisie.
Hulle moes dink, planne maak en self oplossings vind vir probleme en sonder dat hulle eers daarvan bewus was, was hulle besig met leierskapontwikkeling, verantwoordelike optrede tydens noodsituasies, die belangrikheid van groepwerk en kommunikasievaardighede.
Hoogtepunte was die bou van skuilings, .22-skiet, baljaar in die swemgat en kamoeflering.
Die veldskool was weer eens 'n groot sukses, te danke aan toegewyde mentors wat alles ingesit het om aan die kinders 'n ervaring van 'n leeftyd te bied.
Die kamp is afgesluit met 'n heerlike ete uit die veldkombuis en almal is vuil en moeg, maar blinkoog huis toe.
Vir meer inligting rakende junior opleiding, kan Fermi Meyer gekontak word (072 444 8236). Of besoek die SJB-webtuiste: www.suidkaapjagters.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'