MOSSELBAAI NUUS - Twee alternatiewe roetes wat reeds op die Mosselbaai-munisipaliteit se padmeestersbeplanning aangedui is, is tydens 'n vergadering met die gemeenskap as 'n moontlike addisionele, volwaardige toegangspad na Danabaai bespreek.
Dit volg na 'n vuurwarm gemeenskapsvergadering op 26 Julie waartydens Danabaaiers sterk aangedring het op 'n veilige alternatief vir die huidige toegangsroete.
Inwoners het in groot getalle opgedaag vir 'n vergadering oor die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan wat op Woensdag, 15 Augustus gehou is.
Direk daarna is volledige terugvoering gegee oor die alternatiewe roete, waarna die hoof van Mosselbaai se brand- en rampbestuursdienste, Joseph Johnston ook die munisipaliteit se gebeurlikheidsbeplanning bespreek het.
Die gemeenskap het oorweldigend ten gunste van die roete wat by die Herbertsdale-afrit by die N2 sal aansluit gestem. Hierdie roete sal deels oor privaat eiendom loop.
Die direkteur van beplanning en geïntegreerde dienste, Carel Venter het gesê dat die voorgeskrewe omgewingsimpakstudie, openbare deelnameprosesse, grondverkryging, beplanning en alles wat daarmee gepaard gaan, tydrowend sal wees. Gevolglik sal bouwerk nie binne die volgende jaar of twee 'n aanvang kan neem nie.
Die ander voorstel was 'n pad wat uiteindelik by Apiesdoringweg in Heiderand sou aansluit. Hierdie pad strek oor erf 2001, wat vir formele dorpsontwikkeling bestem is.
Volgens Venter is die bestaande toegangsroete na Danabaai wel munisipale eiendom. Wyksraadslid Marie de Klerk het bevestig dat daar wel planne beraam word om die veiligheidsituasie by die aansluiting van Floraweg by Louis Fourieweg te beredder.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het gesê dat die raad besef dat die gemeenskap lank reeds die behoefte aan 'n alternatiewe toegang bepleit.
"Die uitdaging sal wees om die nodige fondse te bekom, daarom sal beslis ook gekyk word na alternatiewe bronne vir befondsing."
Op 'n vraag hoe die gemeenskap verseker kan wees dat die pad wel gebou sal word, het raadslid De Klerk persoonlik die versekering gegee dat sy daardie verantwoordelikheid op haar sal neem.
Twee alternatiewe toegangsroetes wat reeds op die munisipaliteit se padmeestersbeplanning aangedui is, is tydens 'n gemeenskapsvergadering aan Danabaai-inwoners voorgehou. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'