MOSSELBAAI NUUS - Die buurtwag en inwoners van Bayview is bekommerd oor die toeloop van bosslapers, rondlopers en misdadigers wat op parool vrygelaat word by onder meer die store by Transnet se Voorbaai-depot.
Fasiliteite wat voorheen waarskynlik gebruik is as skadu-afdakke vir werknemers se voertuie, word tans gevandaliseer en die buurtwag vrees dat dit boonop 'n brandgevaar mag inhou.
Dit wil voorkom asof die stoorruimtes, wat draadafskortings onder afdakke is, sedertdien vir privaatstoorruimte gebruik word aangesien heelwat van die hekke met slotte gesluit is en allerlei rommel daarin te siene is.
Opsigtelik is alles wat moontlik van waarde kon wees, óf gevandaliseer, óf weggedra. In sommige van die afskortings is hope houtplanke en ander rommel en ooglopende tekens dat mense daar oornag het. Bierblikke lê op die terrein en binne sommige van die store.
Wat egter vir die buurtwag kommerwekkend is, is dat bekende misdadigers wat onlangs op parool vrygelaat is, gereeld by die store opgemerk word en skynbaar daar oornag.
Die vrees bestaan dat hierdie gesoute misdadigers die geleentheid gebruik om die eienaars van nabygeleë eiendomme se bewegings dop te hou en vanaf die store ongesiens maklike toegang tot die woonbuurt kan bekom. Daar is 'n toename in geleentheidsmisdade in die area.
Buurtwaglede het kort tevore onder meer die diefstal van staalkabinette voorkom toe misdadigers op Louis Fourieweg voorgekeer is met van die kabinette. Hoewel die buurtwag op hul koste van die slotte vervang het, breek die vandale deur die draadafskortings om toegang tot die store te bekom.
Die eiendom behoort aan Transnet en die buurtwag doen nietemin gereeld patrollies by die store.
Talle bewyse van gesteelde goedere, soos onder meer beursies en skoene is daar gevind waarna die eienaars positief geïdentifiseer en gekontak is.
Die voorsitter van die Mosselbaai-gemeenskapspolisieforum, Leon van Dyk het ook sy kommer oor die situasie uitgespreek en sê dié, en ander veiligheidsprobleme met Transnet-eiendomme is onlangs op uitvoerende vlak met uitvoerende bestuurslede van die nasionale hawe-owerheid opgeneem.
"Die gebrek aan instandhouding van die spoorreserwe, waar digte bosse die ideale wegkruipplek vir geleentheidsmisdadigers bied, asook ander veiligheidrisiko's, is op die hoogste vlak deur die munisipaliteit, die GPF en polisiebevelskader met TNPA se uitvoerende bestuur opgeneem. Ons het die onderneming gekry dat daadwerklik opgetree sou word om die probleme wat geopper is, aan te spreek," aldus Van Dyk. Tog duur vandalisme en die teenwoordigheid van rondlopers op Transnet-eiendomme blykbaar ongestoord voort.
Volgens die TNPA-woordvoerder, Sithembiso Soyaya is die Voorbaai-depot buite die hawe-owerheid se grense en word dit deur 'n sustermaatskappy van TNPA, Transnet Freight Rail beheer. Volgens Soyaya was die Mossel Bay Advertiser se navraag die eerste keer wat die probleem by die store geopper is.
"Die probleem is sedertdien met die tersaaklike personeel opgeneem," aldus Soyaya. Teen druktyd is geen terugvoer van Transnet Freight Rail ontvang nie.
Die regmatige eienaar van hierdie gesteelde beursie is intussen deur die buurtwag opgespoor nadat dit by die store gevind is.
Die buurtwag het hierdie rondloper verhoed om die staalkas, wat uit die store gebuit is, vir skroot te verkoop.
Volgens die buurtwag word bosslapers, rondlopers en bekende misdadigers wat op parool vrygelaat word, gereeld by die store opgemerk wanneer hulle daar oornag.
Die slotte by verskeie hekke is reeds afgebreek en by ander is die draad gevandaliseer om toegang tot die store te bekom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'