Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die voorsitter van Mosselbaai se gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF), Leon van Dyk sê daar was sover sy kennis strek geen noemenswaardige voorvalle van misdadigheid tydens die Dias- en Hawefees nie.
Dit is waarskynlik toe te skryf aan die teenwoordigheid van berede polisielede en buurtwaglede wat die area in en om die feesterrein met perde en viertrekmotorfietse gepatrolleer het.
Voorts het die GPF 'n beheerkamer op die feesterrein ingerig waar die publiek geleentheid gehad het om met lede van die GPF en polisie te skakel.
Dit was egter veral die jongklomp wat hulle verlustig het aan die geleenhtheid om met 'n ware polisielid kennis te maak, om nie te praat van die lekker van om op 'n polisiemotorfiets te kon sit nie.
Boonop het heelparty kleuters 'n gebreide polisiepop ontvang wat deur verskeie vrywilligers aan die GPF voorsien word.
Lede het die geleentheid gebruik om informeel met die publiek te skakel terwyl hulle deurentyd 'n ogie gehou het om opportunistiese misdadigers hok te slaan.
"Die GPF bedank Toggekry Landbouhandel vir hul borgskap van voer vir die perde wat verseker het dat die berede perdepatrollies aan hul uitdagings tydens die fees kon voldoen," sê Van Dyk.
Op 'n sersant se skoot met boonop 'n speelding in die hand was hierdie peuter doodgelukkig.
Lede van die Mosselbaai GPF was op die feesterrein byderhand om speelgoed en goeie wenke aan besoekers uit te deel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'