MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit is tans besig met die opgradering en oprigting van persele waar veral kleinsake bedryf kan word. Allerweë bekend as beehives skep hierdie fasiliteite vir opkomende entrepreneurs en die gemeenskap 'n fasiliteit waar flink sake gedoen kan word.
Die opgradering van die beehives in Mosselstraat is met trots aangepak en die betrokke personeel het met oorgawe gewerk om 'n pragtige ontwikkeling vir die gemeenskap te vestig. Nuwe handelspersele is opgerig, die terrein spog met plaveisel en pragtige muurkuns gee 'n unieke karakter aan die fasiliteit.
Vandale het egter begin om stelselmatig die nuwe tuine wat uitgelê is van plante te stroop.
Spesiale moeite is gedoen om plante wat waterwys is aan te plant sodat dit die huidige droogte kan oorleef en in die jare vorentoe kan gedy sonder dat dit gereeld natgelei hoef te word.
Die munisipaliteit doen 'n beroep op inwoners om bedag te wees op vandale en om verdagte optrede aan te meld by 044 606 5000.
"Die fasiliteite is 'n gemeenskapsbate. Dit is ingerig om tot voordeel van die gemeenskap bedryf te word. Die gemeenskap word dus versoek om 'n wakende oog oor hul bate te hou sodat die fasiliteit vir hul kinders se kinders ook 'n trotse bate kan wees."
Kriminele vandale vernietig stelselmatig die pragtige tuin wat juis tot voordeel van die gemeenskap by die nuut ontwerpte kleinsakesentrum in Mosselstraat aangelê is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'