MOSSELBAAI NUUS - Vandale het verlede Woensdag, laatmiddag, slegs enkele dae voordat gesinne van Sonskynvallei hul nuwe huise sou ontvang, minstens ses van die nuwe huise in Sonskynvallei gevandaliseer.
Die skade beloop na raming minstens R200 000 en ten minste een van die huise sal weens strukturele skade oorgebou moet word.
Dit blyk 'n groep mense, meestal jeugdiges, het tussen 17:00 en 19:00 op Woensdag, 13 September buitebande beide buite en binne sommige van die huise brandgesteek en erge rookskade is onder meer aangerig.
Sommige van die huise is met verf bemors, ruite is gebreek en by sommige huise is deure en deurkosyne beskadig in die proses om toegang tot die huise te bekom.
Begunstigdes van Sonskynvallei sou binnekort dié huise ontvang het, maar sal nou nóg langer op waardige behuising moet wag.
Lede van die openbare orde-eenheid van George en die Da Gamaskop-polisie het tot ongeveer 22:00 'n teenwoordigheid in die woongebied gehandhaaf om die orde te herstel.
'n Brandbestryder inspekteer die gebou vir verdere brandgevaar. Die skade aan die plafon en dakstutte kan duidelik gesien word.
Die Da Gamaskop-polisie ondersoek 'n saak van openbare geweld. Enige persoon met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, ao Arlene Stokes (044 606 2200) te kontak.
Inligting sal streng vertroulik hanteer word. Na verwagting sal sake van opsetlike saakbeskadiging ook aanhangig gemaak word.
Die toiletbak is gevandaliseer, en die badkamer is 'n roetmodderpoel.
Skaars 'n week tevore, op Donderdag, 7 September het die Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, minister Bonkinkosi Madikizela, die titelaktes vir hul nuwe huise aan talle begunstigdes, onder meer aan mense vanuit die area, in Sonskynvallei oorhandig.
Vroeg Donderdag-oggend nadat die skade rugbaar geword het, het Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, raadslede en senior beamptes die area besoek.
Toegang tot van die huise is verkry deur die splinternuwe houtdeure af te breek. Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die uitvoerende direkteur strategiese dienste, mnr Colin Puren bekyk die skade.
Die Mosselbaai-munisipaliteit is in die proses om inwoners van Powertown na Sonskynvallei te hervestig omdat die area waar Powertown tot stand gekom het, op 'n vloedvlakte geleë is.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'