MOSSELBAAI NUUS - Vandag, Saterdag 11 Desember is Mosselbaai en omgewing meer bedrywig as gewoonlik met besoekers wat van oral kom vakansie hou.
Verskeie gebeurlikhede het vandag plaasgevind.
Vroegoggend het die eerste MyRun by die sportgronde in Langstraat in Groot-Brakrivier plaasgevind. Verskeie drawwers, stappers, kleuters en honde het die 2,5km of die 5km roete aangedurf. Dit vind voortaan elke Saterdag plaas tussen 07:00 en 08:00.
Die publiek en vakansiegangers is welkom om saam met hul gesinne die buitelug te kom geniet.
FOTOGALERY: Mosselbaai bedrywing
Dit vorm deel van Discovery Vitality en Total Sports se program en elke deelnemer kry ‘n bandjie wat by die beginpunt ingeklok word en ook wanneer jy die roete voltooi het. Die tye word dan vir jou per e-pos aangestuur en tel as deel van jou Vitality-punte.
Uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzè en sy gade, Riëtte asook raadslid Annatjie van Rensburg het self ook die 5km-roete met sy ‘n besonderse uitsig oor Groot-Brakrivier gestap.
In Powertown by Klein-Brakrivier is meer as 50 kinders se harte verbly toe Kersvader daar opdaag met ‘n persentjie vir elkeen. Raadslid Annatjie van Rensburg en verskeie helpers het die dag vir die kinders moontlik gemaak en daar was groot opgewondenheid toe Kersvader sy opwagting maak.
Soos soet kinders het elke sy geskenkie ontvang en het sommige die geleentheid gekry om op Kervader se skoot deur mamma of pappa afgeneem te word. Daarna het elkeen ‘n kolwyntjie gekry en ‘n koeldrankie. Hier inisiatief word jaarliks vir die kinders van Powertown gehou.
Vryskutverslaggewer, SD Groenewald het Vrydag, 10 November Mossel Bay Care Centre besoek waar ’n groepie leerders verras is met ’n Kerspartytjie. Die leerders het uit hulle velle gespring toe Kersvader opdaag. Hy het tyd van sy besige skedule afgeknyp en ‘n geskenkie vir elke leerder oorhandig.
Vandag het hulle die toppresteerders van die skool bederf met 'n rit op die Romonza-boot om Robbe-eiland. Terug by die hawe het die bederf voortgegaan waar 'n wegneem-ete vir hulle gewag het. Hierdie is een Kersseisoen wat hulle nog lank sal bybly.
Die ander geleentheid wat later vandag nie misgeloop moet word nie is die Kersliedere en aanskakel van die Kersliggies by die Harry Giddey-park oorkant die munisipaliteit in Marshstraat.
Die program begin om 18:30 - 19:00 met die sing van Kersliedere, waarna die liggies omstreeks 19:55 aangeskakel sal word.
Marshstraat sal weer eens ‘n kaleidoskoop van kleur wees wanneer die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzè, die feesliggies vir die seisoen aanskakel.
Lees gerus meer in Vrydag 17 Desember se Mossel Bay Advertiser en aanlyn.
Beamptes van die heel eerste MyRun in Groot-Brakrivier. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'