Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Party mense glimlag van oor tot oor. Sommige glimlag selfs breër as dit. Wyona Rose Erasmus is een van hulle.
Dít, is egter glad nie omdat sy nie teleurstelling ken nie.
Inteendeel, dié jong vrou glo dat aanvaarding van jouself, jou omstandighede en om dan die hulpbronne tot jou beskikking te gebruik om 'n impak rondom jou te hê, waarlik deure oopmaak.
FOTOGALERY: Tandarts Rose Eramus doen gemeenskapsuitreik
Wyona Rose, 'n gekwalifiseerde tandarts, is 'n Mosselbaaier in murg en been en so in haar element omdat sy uiteindelik 'n droom kon verwesenlik.
Dit is om haar passie vir opvoeding oor tandheelkunde by plaaslike skole te kon doen. In samewerking met die Mossel Bay Community Soup Drive, het sy haar Toothsday with Rose-program by vier laerskole in die gemeenskap aangebied.
Middel tot 'n doel
Op die vooraand van haar onderhoud met die Mossel Bay Advertiser, wat deels oor haar inskrywing vir Mej Suid-Afrika 2022 sou gaan, laat weet sy dat sy uitgeval het.
Eintlik, is dié kompetisie maar net vir haar 'n middel tot 'n doel.
"Ek het ingeskryf na ek op die Phelophepa-trein gewerk het. Toe ek hierdie multidissiplinêre benadering tot gesondheidsorg sien, wou ek dit met alle mag verder vat. Om in te skryf vir Mej Suid-Afrika was vir my 'n manier om daardie groter platform te betree waar ek 'n groter impak sou kon maak."
VIDEO - Van talentvol tot tandsorg: Meet Wyona Rose (Video: Cornelle Carstens).
Maar platform of te not, sy doen in elk geval haar ding.
Sy het as tandheelkundige student aan die Universiteit van Wes-Kaapland by gemeen-skapsuitreike betrokke geraak. En toe byt die gogga behoorlik.
"Om inligting met mense in die gemeenskap te kan deel oor tandheelkunde, maak 'n massiewe verskil. As kind, het ek nooit so iets gehad nie. Daar is soveel mense wat met dental anxiety sit. Baie se tande is skeef of het ander probleme wat 'n wesenlike effek op hulle selfbeeld en selfvertroue het.
"Dit hoef nie so te wees nie. Ek wil dit verander."
Nadat sy graad gevang het, het sy aktief betrokke by uitreikwerk gebly, maar grotendeels in die Kaapse Skiereiland. Tussen 9 en 13 Mei, was sy vir die eerste keer met 'n program op Mosselbaai besig.
"Ek het van die begin af geweet, ek wil nie 40 jaar agter 'n stoel staan en 'n tandarts wees nie. Ek wil uitgaan en aktief in my gemeenskap wees."
Wyona Rose se werkgewer verstaan haar passie om terug te ploeg in haar komvandaan en het haar goedgunstiglik verlof gegee om dit te doen.
Talentvol
Aan veelsydigheid en talente het sy geen tekort.
As skolier wen sy Mossel Bay's Got Talent in die sangkategorie. Hierdie belangstelling jaag sy steeds aktief na. Binnekort, gaan sy ook haar hand aan toneelspel waag.
Sy is tans betrokke by mentorskap vir die deelnemers aan Mej Eden FM en grimeerkuns is ook 'n groot liefde.
Wyona Rose het haar eie YouTube-kanaal.
"Ek het vroeg al geleer om my tyd goed te bestuur. My dag is 20 uur lank."
Sy glo tyd is nie hare nie, maar God s'n. Daarom leef sy voluit en wil sy ander in haar gemeenskap aanspoor om dieselfde te doen.
Maar hoekom tandheelkunde?
"Ek wou altyd 'n werk doen waarin ek 'n lab coat moet dra," skerts sy en lag dat jy net spierwit tande sien.
Foto's: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'