MOSSELBAAI NUUS - Môre, 29 Junie sal Ampie Reinecke (80) wys hoe ernstig hy is, nie net oor valskermspring nie, maar veral oor kankerbewusmaking.
Ampie, 'n kankerlyer sedert die 1980s, het vroeër jare in die 1960s sy land in valskermspring verteenwoordig, alhoewel dit destyds nog nie 'n sport is waarin nasionale kleure verwerf kon word nie. Hy het sy geliefde stokperdjie egter op die lange baan geskuif toe sy vrou, Dot hom vra om te kies tussen haar en die adrenalien.
Verlede jaar in November het hy vir die eerste keer in 51 jaar weer valskerm gespring.
Intussen is hy verlede week amptelik verwelkom as 'n erelid van Mossel Bay Skydive.
"Ek het 'n projek begin, Skydive Kiddies Cancer Drive, om geld in te samel vir alle kinders wat op die een of ander manier deur kanker geraak word. Ons nooi almal om môre by ons aan te sluit en die dag te kom geniet." Die geselligheid begin vanaf 10:00 by die Mosselbaai-vliegveld in Aalwyndal.
"Vir diegene wat nie daar kan wees nie, besoek gerus my facebookblad. Al die inligting is daar. Ook bankbesonderhede vir die projek, direk gekoppel aan Kansa waar donasies gemaak kan word." Sy mikpunt is op teen 27 Junie 2020, R5 miljoen in te samel vir kinders wat deur kanker geraak word. "Dit is, as ek nog hier is." Ampie ly aan prostaatkanker, wat sy skeletale sisteem ernstig beïnvloed.
Salome Niemann van Mooiste Jy het verlede week onderneem om Ampie se projek te ondersteun. Sy het 'n groepbefondsingsrekening aanlyn geopen waar bydraes inbetaal kan word. Besoek https://www.givengain.com/ap/salome-niemann-raising-funds-for-cansa-active/ om 'n bydrae te maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'