MOSSELBAAI NUUS - In die afgelope week is plaaslike nooddienste, wat reeds onder druk is om 'n groot area van onmisbare dienste te bedien, sover bekend drie keer na noodtonele ontbied wat blyk telkens vals alarms was.
Volgens inligting is 'n motorongeluk verlede Vrydag in Hartenbos gerapporteer.
Die bestuurder van die voertuig, 'n man, het glo nooddienste gekontak en die omstandighede beskryf, maar die toneel kon nie gevind word nie.
Die inbeller kon ook nie weer op die gegewe nommer bereik word nie.
In 'n daaropvolgende voorval die afgelope naweek is nooddienste na Santosstrand ontbied, waar drie kinders na bewering in die moeilikheid beland het.
Nooddienste het hulle weer eens na die toneel gehaas en die NSRI se reddingsvaartuig is ontplooi. Weer was dit skynbaar 'n vals alarm.
Maandag is nooddienste asook die NSRI inderhaas na Hartenbosstrand nadat 'n moontlike verdrinking gerapporteer is. Weer moes daar onverrigter sake na die basisse teruggekeer word aangesien daar skynbaar nie 'n noodsituasie was nie.
"Wanneer ernstige gevalle soos hierdie aangemeld word, vereis protokol dit dat ek na die toneel moet gaan," verduidelik 'n plaaslike paramedikus, wat verkies om anoniem te bly.
"As dit dan 'n vals alarm is en 'n ander ernstige geval word op dieselfde tyd gerapporteer, word ander pasiënte van dienste ontneem."
Kaptein Wollie Fourie, kommunikasie-beampte van die Da Gamaskop-polisie het by navraag bevestig dat indien persone wat vals klagtes of noodoproepe maak opgespoor word of hulle telefoonnommers nagespoor word, hulle krimineel aangekla en vervolg kan word.
Die Mossel Bay Advertiser het vertroulik verneem dat 'n opsporingstoepassing gebruik is om een van die nommers waarvandaan vals noodoproepe gemaak is na te spoor en verdere stappe word tans oorweeg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'