MOSSELBAAI NUUS - Wat ‘n fees! Wat ‘n geleentheid! Dit was die reaksie van die fynproewers oor hierdie Valentynsdagdemonstrasie by Salt & Copper, die splinternuwe restaurant in Hartenbos, op Donderdag, 6 Februarie.
Almal het ‘n ietsie rooi gedra en op die tafels was interessante versierings uit glas, rooi blomme en tamaties.
Dit alles het ‘n gees van afwagting geskep - en teleurgesteld was niemand nie.
Antolique Heunis, die bloedjong sjef van Salt & Copper by hierdie geleentheid, het sommer dadelik almal bekoor met haar kennis, vaardigheid en spontane persoonlikheid. Sy het talle praktiese wenke gegee om ‘n gereg van die alledaagse na die besondere te neem. Die flinke en sjarmante bediening deur die kelners het verdere luister aan die geleentheid verleen.
Dié romantiese Valentynsdemonstrasie is saamgestel uit vyf gange.
Die eerste gang, aspersies bedien met geroosterde uieroom en pietersieliepuree, was heerlik en baie aanskoulik opgedien.
Die foreltartare met tamatietee daarna het groot byval gevind en dit was die bewys dat ons Suid-Afrikaanse forel geensins hoef terug te staan vir Norweegse salm nie.
Die derde gang, volstruisfillet bedien met beet (drie verrassende variasies), was ook ‘n treffer wat die veelsydige gebruik van beet gedemonstreer het.
Die paletreiniger, waatlemoen-roosmarynsorbet met roosmarynmeringue, het veel eerder na ‘n heerlik verfrissende nagereg geproe, maar die aarbei-en-lemmetjienagereg met madeleines het beslis hierdie vergissing uitgewis. Dié nagereg was ‘n groot gunsteling onder die fynproewers.
Louise Willer van Meridian Wine Merchants het Buitenverwachting Buiten Blanc (eerste gang), Pierre Jourdan Tranquille (tweede gang), Guardian Peak Shiraz (derde gang) en Ken Forrester Petit Natural Sweet (nagereg) gebruik vir die wynpasproe. Hierdie wyne was uitstaande pasmaats vir al hierdie geregte.
As die fynproewers en hulle gaste vanjaar hulle Valentyn wil beïndruk, moet hierdie spyskaart slaafs voorberei word. Hulle sal geensins teleurgestel wees in haar/sy valentyn se reaksie nie.
Aspersies bedien met geroosterde uieroom en pietersieliepuree was heerlik en baie aanskoulik opgedien.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'