MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisiestasie ondersoek reeds twee sake van bedrog nadat vakansiegangers met sogenaamde verblyf ingedoen is.
In die eerste voorval is ‘n saak van internetbedrog gemaak.
Polisiewoordvoerder, kapt Wollie Fourie sê die slagoffer en sy gesin is van Brits afkomstig en het vanaf Januarie vanjaar tot onlangs ‘n sekere bedrag in ‘n vroulike verdagte se rekening betaal.
“Die verdagte woon op Mosselbaai en het die vakansieakkommodasie op die internet geadverteer. Die slagoffer het geld betaal om by die sogenaamde vakansiewoonstelle by Diasstrand vakansie te hou. Met hulle aankoms het hulle uitgevind die woonstel is reeds uitverhuur en dat hulle nie plek het om te bly nie.”
Volgens Fourie het die slagoffers meer as R17 800 vir die vakansieakkomodasie betaal.
“Die verdagte woon in die area en dit blyk dat dit ‘n tendens is van haar om by sulke slenters betrokke te raak.”
Fourie sê in die tweede voorval het die slagoffers wat van Worcester afkomstig is vanaf 30 September tot 23 Desember geld via die internet aan die verdagte betaal.
“Hulle het op ‘n webwerf gesien dat die vakansiewoning op Hartenbos geadverteer word en het geld in ‘n rekening betaal. Met hulle aankoms hier kon hulle egter geen so ‘n adres of woning op Hartenbos vind nie.”
Die polisie ondersoek twee sake van bedrog.
Volgens ander media het nog slagoffers na vore gekom wat in beweerde verblyfslenters gevang is. NetNuus berig tot R100 000 se bedrog is ter sprake en dat byna agt gesinne ook ingeloop is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'