MOSSELBAAI NUUS - 'n Bekommerde lid van die gemeenskap het verlede week die stelling gemaak dat "diewe hul Kersinkopies in Barracudastraat" gedoen het.
In die voorval waarna hy verwys het, is die skuifdeur van 'n woning in Barracudastraat vermoedelik gedurende die nag op 30 November deur inbrekers uitgehaal en 'n televisiestel is gesteel.
Volgens die bron is die straat glo gewild onder inbrekers.
Kaptein Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die die Da Gamaskop-polisie het by navraag bevestig dat huisbrake in Uitbreiding 13 by name Snoek-, Barracuda-, Marlin- en Steenbrasstraat 'n kopseer is. Uitbreiding 23 en 26 is eweneens 'n brandpunt.
"Huisbrake vind veral in die vroegaand, nag en vroegoggende plaas."
Hy het inwoners van hierdie woongebiede opnuut versoek om betrokke te raak by hulle buurtwag.
"'n Aktiewe buurtwag maak 'n wesenlike verskil in misdaadbekamping. Maak ook seker dat jou bure byvoorbeeld weet wanneer jy tuis is en wanneer nie.
"Sodra buurtwagaktiwiteite taan, stel die gemeenskap hulleself bloot aan 'n toename in misdaad in hulle woongebiede."
Verder het hy genoem dat probleemhuise in woongebiede uitgewys en aangespreek moet word, so ook moet inwoners van woongebiede vreemde mense wat op straat se teenwoordigheid bevraagteken.
Kolonel Mark Hartzenberg (regs) en konstabel Dyasi (links), sektor 1-bevelvoerder in gesprek Woensdagmiddag met die gemeenskap van Uitbreiding 13 en 23 ten opsigte van die toename in huisbrake in die gebied.
Die stasie bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisie, kol Mark Hartzenberg het vandeesweek met die inwoners van hierdie woongebiede vergader om hulle te motiver om aktief deel van 'n buurtwag te wees.
"Maak ook seker om deel te word van 'n WhatsApp-groep. Dit is 'n belangrike bron van inligting.
"Gemeenskapsbetrokkenheid is 'n belangrike teenvoeter vir misdaad, het kapt Fourie gesê.
Hy het inwoners van die gebiede aangemoedig om met die sektorbevelvoerder, kst Dyasi (082 778 7308) of die voorsitter van die buurtwag, Jerome Meyer (079 048 7950) kontak te maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'