MOSSELBAAI NUUS - Die vroeggebore tweelingboeties wat op 29 Desember 2020 die lewenslig aanskou het nadat hulle ma Covid-19 opgedoen het, het onlangs hulle eerste verjaarsdag gevier.
Die seuntjies, Reece en Rilie het Mosselbaaiers se verbeelding aangegryp nadat die nuus van hulle 37-jarige ma, Rozaan (Gelderbloem) November van Mosselbaai op 9 Januarie 2021 aan Covid-19 verwante oorsake afgesterf het.
Die boeties was vir 'n tyd in hulle ouma aan moederskant se sorg, waarna hul pa, Riaan November hul na sy familie in Stellenbosch geneem het.
Riaan het vandeesweek by navraag 'n bietjie meer oor sy woelwaters vertel.
Trane
Volgens hom is Reece en Rilie se persoonlikhede uiteenlopend. Reece is volgens sy pa 'n aktiewe knapie wat hou daarvan om dinge te doen. Boonop weeg hy 12kg, 'n hele kilogram meer as boetie, Rilie.
"Rilie is die rustiger outjie. En hy lyk nes sy ma. As jy Rilie sien, sien jy sy ma Rozaan."
Riaan vertel dat dit met die tweeling se eerste verjaarsdagviering op Mosselbaai, rede vir van die trane was. Hy het die tweeling vroegoggend op 29 Desember uit Stellenbosch na Mosselbaai gebring om hulle verjaarsdag saam met familie te vier.
"Daar was trane, want die familie hier het die tweeling in Maart 2021 laas gesien. Maar die trane was nie net hartseer nie, dit was ook van vreugde."
Riaan beken dat die gemis na sy vrou baie groot is. Dis veral herdenkings en verjaarsdae dat hy swaar trek, verduidelik hy.
"Ek sal nooit rêrig oor haar dood kom nie. Sy was my alles."
Hy sê dit is 'n groot uitdaging om pa-alleen die twee seuns groot te maak.
"Elke kind het 'n moeder nodig. Sekere goed kan kinders net by 'n ma leer, maar ek doen my bes om hulle alles te gee wat ek kan."
Ondersteuning
Hy praat met lof van sy goeie ondersteuningstelsel in Stellenbosch. Aan die gemeenskap van Mosselbaai, rig hy ook 'n spesiale woord van dank.
Volgens hom is die ondersteuning wat hy en veral die tweeling kry waarlik 'n versinnebeelding van die gesegde it takes a village to raise a child.
LEES MEER: Tweeling wat ma verloor doen goed
"Ek wil niemand uitsonder nie, maar Georgia was nog die heeltyd in kontak met ons." Georgia Argyropoulos, eienaar van 'n plaaslike skool, was sedert die boeties se geboorte betrokke by die werwing van skenkings en fondse vir hulle huidige en toekomstige behoeftes.
Verder wat Mosselbaaiers, ook die tweeling se familie plaaslik betref, sê Riaan: "Ek het op Mosselbaai iets beleef wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie en dit is, dat as iets gebeur, staan die gemeenskap waarlik saam."
Rilie
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'